DAAR het Woensdag (29 Junie) geen verslag voor die Groter Oudtshoorn-raad gedien oor beweerde inmenging in die aanstellingsproses van ’n munisipale bestuurder vir die dorp nie.
Aurelia Mle, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, het verlede week aangedui dat die burgemeester, Chad Louw, by dié vergadering sou verslag lewer oor die aanstellingsproses wat “gekompromitteer” is. By Woensdag se raadsvergadering is egter aanvanklik aangedui dat geen verslag sal dien nie en die aanstellingsproses voortgaan.
Nadat die DA in koalisie met Icosa, die VF Plus en Saamstaan egter laatmiddag beheer van die raad oorgeneem het, het die nuwe koalisie besluit dat die aanstellingsproses om ’n munisipale bestuurder aan te stel, eers gestaak moet word. (Berig opgedateer sedert aanvanklike plasing)