Een van Oudtshoorn se mooiste besigheidspersele, die Turnberry Boutique Hotel, word op Vrydag 29 Januarie 2021 op ‘n veiling te koop aangebied.
Dié vierster-hotel wat groot getalle internasionale toeriste oor die jare na Oudtshoorn gelok het voordat Covid-19 die toerismebedryf lamgelê het, is een van die slagoffers van die Covid-pandemie.
Volgens Niel Els, mede-eienaar van die hotel, het internasionale besoekers 95% van die hotel se gaste uitgemaak. Die pandemie met sy verbod op internasionale toerisme verlede jaar het die hotel gedwing om sy deure reeds einde Maart 2020 te sluit.
Die gebou, wat deur Auction One opgeveil gaan word, is sentraal en uitstekend geleë en het baie potensiaal om ook byvoorbeeld as ‘n kantoorgebou, welstandsentrum (wellness centre), rehabilitasiesentrum, mediese sentrum, ens bedryf te word.
Die veiling vind om 12:00 by die hotel en aanlyn plaas.