Borgtog vir Oudtshoorn-vrou wat met R1,4 miljoen se dwelms betrap is

Van die dwelms wat gevind is. Foto verskaf

Deur Garnett Wicomb
BORGTOG van R10 000 met streng voorwaardes is verledeVrydag in die Oudtshoorn Landdroshof aan ‘n vrou toegestaan wat met dwelms van sowat R1,4 miljoen in haar besit in hegtenis geneem is. Sy word van handel in dwelms aangekla.

Die 35-jarige Khanyisa Mfumbe van Bongolethu in Oudtshoorn is op 30 Desember verlede jaar by die Unieplein Taxistaanplek in hegtenis geneem.

Die Attaqua-honde-eenheid van die polisie was besig met ‘n operasie toe die
verdagte optrede van die vrou hul aandag getrek het. Sy het probeer om ‘n groot tas te versteek, maar met die hulp van ‘n dwelmhond is die dwelms in die tas gevind. Daar was 9 000 Mandrax-tablette en ses pakkies tik met ‘n gewig van 2 kg in die tas.

Mfumbe sê in haar verklaring dat sy sedert haar geboorte saam met haar moeder woon en die ma is van twee minderjarige kinders.

Die staat het nie borgtog teengestaan nie en landdros Marvin de Vos het borgtog van R10 000 toegestaan op voorwaarde dat sy nie kontak maak met staatsgetuies nie, elke Maandag en Vrydag tussen 06:00 en 18:00 by die Bongolethu Polisiekantoor aanmeld, nie by enige verdere misdaad betrokke raak nie en nie die distrik van Oudtshoorn verlaat sonder die toestemming van die ondersoekbeampte nie.

Die borggeld is Maandag betaal en Mfumbe is vrygelaat.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 25 Februarie 2021 uitgestel.