Deur Stefan Skapie Goosen
TWEE mense, Geraldine Mbeni en Simon May, het gister (Sondag 17 Januarie 2021) in die vroeë oggendure gesterf toe die voertuig waarin hulle passasiers was ‘n boom langs die Volmoed-pad getref het.
Volgens kapt Louis Visser, Oudtshoorn-polisiewoordvoerder, was daar nege mense in die voertuig wat omstreeks 01:30 die oggend naby die Volmoed-winkel met die boom gebots het. Dit is nie tans bekend hoe die ongeluk plaasgevind het nie en waarom dit op die pad was lank nadat die aandklokreël in werking getree het nie. .
Volgens Visser is vier van die beseerdes oorgeplaas na ‘n hospitaal op George en is een steeds in die Oudtshoorn Hospitaal. Twee van die ander insittendes is reeds uit die hospitaal ontslaan.
Visser sê die bestuurder van die voertuig was nie op die toneel was met die polisie se aankoms nie, maar het Sondagmiddag by die hospitaal opgedaag het en is reeds ontslaan.
Die polisie ondersoek sake van strafbare manslag, dronkbestuur, versuim om die regulasies van die wet op rampbestuur na te kom, asook versuim om hulp te verleen op die ongelukstoneel.