Dringende hofaansoek teen Kannaland se peperduur energieprojek en aanstelling van ekstra personeel

Die Wes-Kaapse regering het vroeër vandag bekend gemaak dat hulle regstappe neem teen verteenwoordigers van en senior amptenare by die Kannaland Munisipaliteit om moontlike skadelike en onwettige transaksies te voorkom.

Dit volg na pogings by die munisipaliteit om skynbaar  ’n reeks “politieke” personeelaanstellings te maak asook ander moontlik skadelike en onwettige transaksies deur te voer.

Anton Bredell,  provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê die optrede is nodig om te voorkom dat die munisipaliteit massiewe finansiële verpligtinge aangaan wat dit nie kan bekostig nie.

“Dit sluit pogings in om ’n kontrak met ’n privaatfirma te sluit vir die verskaffing van elektrisiteits- en waterdienste teen ’n koste van honderde miljoene rande wat die munisipaliteit langer as 25 jaar sal bind. Die Nasionale en Provinsiale Tesourie het die munisipaliteit in kennis gestel dat hulle nie die behoorlike proses gevolg het nie en ook nie verseker het dat die proses wat gevolg word, billik, deursigtig, mededingend en koste-effektief is nie. Dit blyk dat die projek R735 miljoen sal kos, wat duidelik nie bekostigbaar is as die munisipaliteit se totale beskikbare bedryfsbegroting vir 2020/21 R174 miljoen is nie.”

Die Hoorn het in Desember berig oor ’n beoogde energieprojek tussen die Kannaland Munisipaliteit en die firma Inovasure, bekend as die Kannaland Inovasure Energy Vault Program. Die projek is sedert 2012 in die pyplyn. Verskeie sakemense en landbouers in die streek het verlede jaar hul kommer uitgespreek oor die implikasies van so ’n groot projek in ’n klein landelike munisipaliteit met gebrekkige finansies.

Bredell sê die aanstelling van politieke personeel in die kantore van die speaker en burgemeester, insluitend ‘n kantoorbestuurder, ’n bestuurder, ’n klerk, ’n “politieke ondersteuningsbeampte” en “ondersteuningspersoneel” is voorts laakbaar vir ‘n klein munisipaliteit in ’n finansiële krisis wat sukkel. om dienste aan die gemeenskap te lewer en die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie te hanteer.

“Die nuutste optrede van die munisipaliteit is nie net onwettig nie, maar dit ondermyn ook die vordering  wat die provinsiale regering sedert 2017 gemaak het – toe by die munisipaliteit ingegryp is – ten opsigte van finansiële stabiliteit en volhoubaarheid. Die finansiële herstelplan wat vir die munisipaliteit ingestel is om ’n koste-effektiewe en kostebesparende personeelstruktuur te skep, word nou geïgnoreer. Werk wat vir vriende gegee word. is eenvoudig onaanvaarbaar,” sê Bredell