Tuisnywerheid vier 50 jaar: Oud maar nog lank nie koud!

Stigterslede van die Oudtshoorn Tuisnywerheid tydens die organisasie se 50ste verjaarsdagvieringe. Hulle is van links Petro Heyns, Isabé Fourie, Elna Coetzee, Rosie Schoeman en Annie Potgieter met Veronica Greeff, wat ook al meer as 40 jaar lid is van die organisasie, heel regs. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

Die huidige direksielede van die Oudtshoorn Tuisnywerheid sny saam die koek wat spesiaal vir hul 50ste verjaarsdagvieringe gebak is. Hulle is van links Cecile Ferreira, Nerina Aling (voorsitter) en Petro Heyns wat ook die enigste aktiewe stigterslid van die organisasie is.

Spesiale gaste, direksielede – oud en nuut, en stigterslede van die Oudtshoorn Tuisnywerheid word vermaak deur Marisca Rain tydens hul verjaarsdagvieringe op Saterdag, 8 Mei.

Gaste by die Oudtshoorn Tuisnywerheid se 50ste verjaarsdagvieringe is bederf met lekkernye wat deur koöperasie-lede voorberei is, insluitend die “verjaarsdagkoek”.

DEUR moeilike tye, insluitend brande, die Covid-19-inperking en selfs die toemaak van die Tuismark, is Oudtshoorn Tuisnywerheid steeds ná vyf dekades ’n instelling op die dorp, en vaar dit steeds uitstekend met die beste vars gebak teen billike pryse in die omgewing.

Vandag is hierdie vroue-koöperasie in Hoog-straat steeds een van Oudtshoorn se bekendste en mees geliefde besighede, en lewer dit buiten die smaaklike tuisgebak steeds plaasprodukte soos groente en vrugte in seisoen, en blomme aan die inwoners van die Klein Karoo.

Die Tuisnywerheid is in 1971 gestig deur wyle me Betsie Schoeman, wat jare lank die direksie-voorsitter was, en wat selfs albei die Tuisnywerheid en die Tuismark, wat in 1994 begin is, se boeke gedoen het. Sy is in November 2010 oor-lede, maar toe was dié vroue-koöperasie reeds behoorlik gevestig en kon dit voortleef.

’n Koöperasie is die ideale manier om ’n tuisnywerheid te bedryf omdat alle lede gelykwaar-dige aandeelhouers is. Uit die lede word ’n direksie gekies wat saam met die lede die besig-heid bestuur en bedryf.

Van die Tuisnywerheid se begin 50 jaar gelede in ’n hoekie van die ou Ons Winkel Koöp – wat aan die agterkant van die huidige Wilck Spar geleë was, aangrensend tot Unieplein – tot die winkel se verskuiwing na waar dit vandag staan, was daar baie struikelblokke om oor te kom.

In die Tuisnywerheid se tyd waar dit verskuif het na ’n perseel wat deel was van die vertoonlokaal van die destydse CP Nel Motorhawe het dit twee brande oorleef. Die tweede brand in 1993 het alles vernietig.

Ook die winkelhulp het in die brand gesterf, maar die formidabele vroue het hulle egter nie laat onderkry nie en skaars twee dae ná die brand is die deure van die Tuisnywerheid weer oopgemaak, dié keer op die perseel langs Schoemans Radio waar die besigheid vandag nog is.

In die afgelope 10 jaar het die Tuisnywerheid van krag tot krag gegroei. Sowat ses jaar gelede het die winkel ook ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Volgens vorige direksievoorsitter, Anna du Plessis, het hierdie opknappings kliënte, besoekers en lede met ander oë na die besigheid laat kyk.

“Ons is ’n gedugte span wat poog om ‘out of the box’ te dink met die aanbieding van gebak en ander produkte. Ons streef daarna om by te hou met nuwe idees, resepte en aanbieding,” sê sy.

Volgens Nerina Aling, huidige direksievoorsitter, is dié koöperasie ook steeds die plek vir sterk vroue met insig en deursettingsvermoë wat aan-gepas het by die tye. “Daar is altyd nuwe idees en goeie besigheidsin onder die vroue. Hulle neem leiding en vat voor!”

Sy voeg by dat, al het Covid-19 ’n impak op die Tuisnywerheid gehad, is daar beslis steeds positiwiteit wat hieruit kom.
“Een goeie ding veral is dat almal weer begin bak het. Al ouma se resepte het weer uit die kaste gekom, en dit is wonderlik!”

Aling meen ook dat die Tuisnywerheid steeds die beste produkte teen die beste pryse lewer. Waar ’n melktert in 1971 net 20 sent gekos het, kos dit vandag R69,50, 500g se klein koekies kos nou R63 teenoor toentertyd se 50 sent en ’n dubbellaagsjokoladekoek wat 75 sent gekos het, kos vandag in ’n enkellaag-weergawe R90.

Daar is ook hoop vir die toekoms. Aling sê die Tuisnywerheid vaar tans so goed dat die moontlikheid om weer ’n tweede winkel oop te maak op die kaarte is.