’N REEKS insidente waar dooie of beseerde katte in Oudtshoorn se woonbuurte gevind is, het Oudtshoorn se eie “cat lady”, Lee-Ann van Sittert, met haar kop in haar hande van hartseer en frustrasie.
Van Sittert, die eienaar van die Cat Hotel wat fokus op die redding en aanneming van weggooi- of rondloperkatte, sê twee onlangse gevalle het haar veral geskok.
Die eerste het in Aschmanstraat gebeur waar ’n rondloperkat met ’n klip oor die kop doodgeslaan is. Die tweede het in Langenhovenweg plaasgevind waar ’n kat – wat in sy eienaar se agterplaas was – met ’n windbuks geskiet en beseer is.
Hierdie kat moes volgens Van Sittert deur ’n veearts behandel word vir sy beserings.
“Ons weet dat daar in Aschmanstraat ’n vrou is wat rondloperkatte voer, en wat deel uitmaak van die probleem. Ons het die geval met haar bespreek en is in die proses om al die katte te vang en na veiligheid te verwyder,” sê ’n sigbaar ontstelde Van Sittert.
Sy sê die Covid-inperking en beperkte fondse het dié vangproses opgehou, maar dat sy saam met die diereskut besig is om aandag daaraan te skenk.
Van Sittert het Maandag saam met haar span en Magda Davel van die Oudtshoorn Diereskut rondloperkatte gevang.
Sy sê sy verstaan dat mense moedeloos en geïrriteerd raak met katte wat in hul huise inkom, moontlik siektes aan ander huiskatte oordra of die katte se kos kom vreet, maar haar pleidooi is dat inwoners die rondloperkatte nie moet seer- of doodmaak nie.
“Asseblief, ek smeek julle, moenie die katte seermaak nie!
“Dit is onaanvaarbaar! Hoe kan mense so iets aan ’n arme dier doen?
“As ek geweet het wie dit was, het ek klagtes teen hulle ingedien. Die beste ding is om vir my of vir Magda te skakel sodat ons die kat of katte kan vang en verwyder,” het Van Sittert gesê.
Van Sittert het inwoners gevra om geduldig te wees.
“Die vangproses is aan die gang, maar ons het ook die publiek se hulp nodig,” het sy gesê.
Volgens Van Sittert is daar sedert Augustus verlede jaar reeds meer as 300 katte en katjies wat deur haar by die Cat Hotel uitgekom het, suksesvol aangeneem.
• Kontak Van Sittert vir die verwydering van rondloperkatte op Oudtshoorn by sel 083 334 0172 en Davel by die Oudtshoorn Diereskut by tel 044 203 3927. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Moet asseblief nie katte doodmaak nie!
Tydens ’n kattevang-sessie in Aschmanstraat, Oudtshoorn Maandag was van links Magda Davel van die Oudtshoorn Diereskut, Kylie Gielink, vrywilliger, Lee-Ann van Sittert van die Cat Hotel en Ryan Geduld (voor). Davel en Geduld, wat by die Kango Dierekliniek werk en Van Sittert al agt jaar lank help, berei hier vanghokke voor. Foto: Stefan Skapie Goosen