OUDTSHOORN se eie Christelike rymkletser en skrywer, Luigi April, sit nie lank stil nie, en het onlangs sy tweede boek in ’n reeks Afrikaanse boeke, ’n Wandel met die Here, vrygestel.
In sy nuutste boek, ’n Wandel met die Here – Persoonlike ondersteuning met God, deel Luigi “baie persoonlike ervarings” met die leser.
“Ek deel met mense die pad wat ek met God moes wandel ten spyte van my geskende selfbeeld en my swak vertroue in mense, en selfs in familie,” sê hy.
Luigi vertel kortliks dat hy as “liefdevolle mens” baie misbruik is deur mense wat voorgegee het dat hulle sy vriende is.
“Ek is in baie gevalle verbaal mishandel en vervloek oor my talent. Mense het geïnsinueer dat ek ’n kansvatter is en myself bo ander wou plaas en gedink het ek is beter as hulle,” sê hy.
“Ek glo ook dat daar mense daarbuite is wat met my kan saamstem dat dit nie lekker is om deur familie verwerp te word nie, en deur dit het jy op straat beland deur ’n keuse wat jy noodgedwonge moes maak as gevolg van onmiddelike omstandighede.
“Om groot te word in ’n huis met ’n stiefpa wat jou verbaal mishandel het, was ook nie lekker nie, maar ek is genadiglik deur die Here se hulp daarvan genees.”
Volgens Luigi is die boodskap dat – al het elkeen op sy of haar eie manier grootgeword en het hulle hul eie struikelblokke ondervind – wat jy met die ondervinding daarvan doen, bepaal of jy bo jou omstandighede sal uitstyg.
“My lewe is ’n voorbeeld vir ander dat ’n mens kan as jy wil.”
Kontak Luigi op 063 363 0841 vir meer inligting oor sy boek, of besoek sy Facebook-blad of YouTube-kanaal. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Tweede Wandel met die Here-boek vir Luigi
Luigi April. (Foto verskaf)