VOLHOUBARE ontwikkeling kan ’n moeilike konsep wees vir kinders om te verstaan, maar met behulp van Trapsuutjies Projekte op Oudtshoorn en Marina Eilers van Veldkerjakkers-faam, sal kinders in die Klein Karoo hopelik binnekort die konsep begryp.
Handpoppe en sokkerballe gemaak uit weggooiplastiek, kan byvoorbeeld juis die sleutel wees om die Verenigde Nasies (VN) se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD’s), waarvan Suid-Afrika ’n ondertekenaar is, oor te dra.
“Dit is nodig dat vandag se jeug wéét wat in die wêreld om hulle aangaan, sodat hulle toegerus kan word om sinvol en positief te kan bydra tot ’n beter wêreld vir húlle kinders,” sê Susan Botha van Trapsuutjies, ’n nie-winsgewende maatskappy wat ’n loodsprojek van stapel gestuur het wat aspekte hiervan na 10 landelike skole in die Klein Karoo neem.
Botha voeg by dat onderwysers deur Eilers besoek word om saam-saam innoverende en kreatiewe maniere te ondersoek om die inligting speel-speel aan die leerders oor te dra. So word seker gemaak dat hierdie inligting in die skoleleerplan geïntegreer word.
Eilers het byvoorbeeld met haar eerste paar besoeke aan dié skole die konsep van ’n poppeteater bekendgestel.
“Die onderwysers en kinders maak dan hul eie handpoppe uit rommel, en daarmee kan water- kwessies en besoedeling aangespreek word. Die idee is dat die kinders uiteindelik hul eie stories met dié handpoppe sal opmaak, om mekaar en die gemeenskap te help inlig oor herwinning en waterbesparing,” sê Botha.
“Ek besoek elke skool een maal per maand en is baie opgewonde oor die onderwysers se geesdrif. Met my tweede besoek aan skole kon ek reeds sien hoe vindingryk inligting oorgedra is en hoe positief leerders hierop reageer. Dit is heerlik om deel te wees van ’n proses waar ’n mens kan sien dat jy ’n verskil maak,” sê Eilers.
Volgens Eilers het leerders na haar eerste besoek aan die skole klein krappe uit papier gemaak, wat hulle help leer het oor skoon water en hoe belangrik dit is vir mens en dier.
“Van die onderwysers het selfs naaldekokers gemaak – ’n spesiale insek wat rondom skoon waterpoele leef. Ek moet sê, die onderwysers se geesdrif is bemoedigend,” sê sy.
Daniel van Rooyen, onderwyser by Scheeperskraal Primêr, sê dat die projek baie goeie hulpmiddels bied en dat daar oulike idees is om leerders te betrek by rolspel.
Nigel Wales, leerkrag by Amalienstein Primêr, bestempel die projek as “insiggewend”, en sê dat die rolspel uitslae aansienlik verbeter.
“Ek sien uit na die volgende sessie,” sê hy.
• Volgens Botha is die VN se 17 VOD’s vroeg in 2016 in werking gestel. “As ’n ‘groen’ organisasie voel Trapsuutjies sterk daaroor dat alle mense oor ten minste die vier doelwitte wat direk met die omgewing te doen het, ingelig moet word,” sê sy.
Met befondsing van die Breede-Gouritz Wateropvangsgebiedorganisasie (BGCMA) wat via die Gouritz Groep Biosfeerreservaat (GCBR) gekanaliseer is, doen Trapsuutjies vanjaar ’n Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitteprogram.
“Die fokus is op die intermediêre fase, aangesien kinders tussen nege en 11 begin om ‘groter prentjie’-idees te ontwikkel en ontvanklik is vir temas wat verder as hul eie wêreld strek,” sê Botha. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Volhoubare ontwikkelingsdoelwitte – wat moet jy hiervan weet?
Marina Eilers (agter) saam met kinders van Lategansvlei Primêr tydens ’n soortgelyke projek in 2020. (Foto’s verskaf)