VEILIGHEID tuis is deesdae op almal se lippe.
Inbrake raak al hoe meer en al is daar buurtwagte wat patrollie doen, vind inbrake steeds plaas.
Daar is deesdae talle sekuriteitstoestelle wat jou huis kan beveilig: sekuriteitsligte wat aangaan as daar beweging is, sekuriteitskameras, sekuriteitstrale (“beams”) waar ’n alarm afgaan sodra iemand dit ontwrig, ens.
Sekuriteitskameras spesifiek is deesdae die gonswoord en pryse is oor die algemeen bekostigbaar.
Daar is egter baie verskillende kameras en opneemtoestelle (“recorders”) op die mark en dit is nie altyd maklik om te besluit watter een om aan te skaf nie.
Kom ons kry eers die terminologie uit die pad
Daar is twee soorte stelsels – analoog of digitaal.
Die analoogstelsel is die eerste soort sekuriteitstelsel wat ontwerp is met die digitale weergawe wat ont-wikkel is soos tegnologie verbeter het. Digitale stelsels staan ook be-kend as IP-stelsels. Moet egter nie dink jy verloor kwaliteit as jy ’n analoogstelsel gebruik nie. Analoogkameras kan tot 4K resolusie hanteer wat hoë definisie insluit.
Digitale stelsels weer het intelligensie ingebou in die kameras. ’n Voorbeeld hiervan is die kameras wat nommerplate kan identifiseer en dit deurgee na die stelsel toe.
Wat kameras betref, is daar ’n hele paar. Die “dome” wat mens in baie winkels aantref, die “bullet” wat meer algemeen buite gebruik word, en die PTZ wat kan roteer en inzoem, ens.
As jy begin rondsoek, gaan jy hoor van ’n DVR (digital video recorder) of NVR (network video recorder). Die DVR is vir analoogstelsels en die NVR vir digitale stelsels.
Die nuwe DVR’s kan ’n kombinasie van analoog- en digitale kameras hanteer wat dit vir jou moontlik maak om IP-kameras of WiFi-kameras aan die stelsel te koppel.
Selfdoenpakkette
Daar is talle selfdoenpakkette op die mark. Op aanlynwinkels word jy toegegooi met al die verskillende vervaardigers en kameras. Oor die algemeen is die selfdoenpakkette ana- loogstelsels aangesien dit makliker is om te installeer.
Indien jy kyk na een van hierdie pakkette, is daar so ’n paar goed waarop jy moet let: die kwaliteit/resolusie van die kameras, hoeveel kabel jy in die pakket kry en of ’n hardeskyf ingesluit is. (Jy mag dink jy kry ’n winskopie, maar kom dan agter jy moet nog sowat R1 000 moet uithaal vir ’n hardeskyf). Ook baie belangrik om na te gaan is die infrarooi-afstand en ook die lux. Hoe kleiner die lux, hoe beter die beeld in die donker.
’n Groot probleem by selfdoenstelsels is dat kameras te hoog gemonteer word en die oortreder se gesig nie gesien kan word nie. Dit is dus raadsaam om ’n goeie instal-leerder te kry wat jou kan help met die korrekte plasing van die kameras asook watter soort kamera om te gebruik.
WiFi-kameras
Indien jy ’n WiFi-kamera wil koop, moet jy onthou dat dit steeds elektrisiteit benodig. As die kamera op ’n afgeleë plek is, moet ’n sonpaneel en battery aan die kamera gekoppel word en die WiFi-toerusting ook sodat jy die video kan opneem via jou WiFi-netwerk. Indien die WiFi-kamera jou WiFi-netwerk in die huis gebruik, moet jou WiFi-sein sterk genoeg wees sodat die kamera die WiFi-netwerk buite jou huis kan opvang.
Die grootste nadeel van die analoogstelsel kom by die hoeveelheid kameras wat jy installeer. Indien jy 16 of meer kameras installeer, moet ’n kabel vir elke kamera geïnstalleer word, waar die digitale stelsel so ontwerp kan word dat jy net een kabel hoef te lê om bv 16 kameras te dek.
Indien jy meer tegnologies georiënteerd is, sal die digitale stelsel meer aanklank vind by jou.
’n Ander kwessie waaraan jy moet dink wanneer jy besluit oor die grootte van jou kamerastelsel, is om eerder ’n groter DVR aan te skaf sodat jy in die toekoms nog kameras kan byvoeg, as om later ’n groter DVR aook die ekstra kameras te moet koop.
Indien jy kameras buite gaan installeer, moet jy ook seker maak die kamera het ten minste ’n IP66-gradering.
Jy kan ook jou eie stelsel saamstel soos wat jou behoefte is. (Deur Heinrich Bosman)