Tronkstraf vir twee wat elfjarige beroof

TWEE jong mans van Bongolethu op Oudtshoorn wat ’n elfjarige meisie beroof het van die geld waarmee sy krag moes gaan koop, is verlede Donderdag (9 Junie) in die Oudtshoorn Streekhof tot onderskeidelik sewe en vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.

Hulle is skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede.

Sydney Hans (23) en Sinethemba Maseti (21) het erken dat hulle die meisie helder oordag met ’n mes gedreig en beroof het van R170 waarmee haar pa haar na ’n winkel gestuur het om krag te gaan koop.

Volgens Sinethemba het Hans die mes gehad en die geld gevat terwyl hy moes kyk dat niemand aankom en sien wat hulle doen nie.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Hans het die leidende rol gespeel. Hy het die kind met ’n mes gedreig en die geld uit haar sak gehaal.

Hans, wat al voorheen aan roof skuldig bevind en onbevoeg verklaar is om ’n vuur­wapen te besit, is tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis.

Die jonger Sinethemba is ingevolge Art 276 (1) (i) gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf, wat beteken dat hy na die uitdiening van ’n sesde van die vonnis om parool aansoek kan doen. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)