Moordsaak: Man met lang lys vorige veroordelings 15 jaar tronk toe

’N MAN van Bongolethu, Oudtshoorn met meer as 30 vorige veroordelings is verlede Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof vir 15 jaar tronk toe gestuur nadat hy aan moord skuldig bevind is,
Ismael Samsodien (48) het onskuldig ge­pleit en aangevoer dat hy uit selfver­dediging opgetree het toe hy Emmanuel Otto (33) in 2020 met ’n mes in die bors gesteek het.

Volgens hom het hy en ’n paar vriende in die vroeë oggendure van 30 Oktober 2020 by sy huis in Elfdelaan gekuier toe Otto daar aangekom en later in ’n argument met een van sy vriende betrokke geraak het.

Samsodien het aangevoer hy het tussenbeide getree toe Otto hom ook aangeval het.

Streeklanddros Sylvia Mandla het egter bevind dat Samsodien nie uit selfver­dediging opgetree het nie en sy weergawe nie redelik moontlik waar is nie.

Sy ellelange rekord van vorige ver­oordelings het vir die oplegging van vonnis verswarend teen hom getel. (Deur Garnett Wicomb)