Polisiegeneraal kry verhoordatum

DIE saak teen ’n polisiegeneraal wat teregstaan op sewe aanklagte van crimen injuria is verlede week in die Oudtshoorn Landdroshof vir verhoor tot 4 Augustus uitgestel.

Sandra Thema (57) word daarvan aangekla dat sy op 7 November 2016 tydens ’n besoek aan die Oudtshoorn Polisie-akademie sewe opleidingsbeamptes na die verhoog geroep en voor sowat 450 rekrute op- en aanmerkings oor hul voorkoms gemaak het.

Sy het na bewering beledigende opmerkings gemaak oor hul kleredrag, gewig en velkleur onder toejuiging van die rekrute.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het na jare besluit om Thema te vervolg.

Sy het op 7 Junie haar tweede verskyning in die hof gemaak.

Die saak is deur landdros Graehymme Williams vir verhoor tot 4 Augustus uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)