Tronkstraf vir man wat sy pa met bottel steek en erg beseer

’N MAN van Oudtshoorn wat sy pa met ’n gebreekte bottel gesteek het oor geld, is in die Oudts­hoorn Streekhof tronk toe gestuur nadat hy aan poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging skuldig bevind is.

Denerick Gerber (29) het op 25 Januarie 2020 die glas van ’n kombuiskas stukkend geslaan en sy pa met die gebreekte bottel gesteek.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat beserings wat Gerber se pa opgedoen het, lewensgevaarlik was.

Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonisoplegging gesê dit is onaanvaarbaar dat ’n kind sy ouers aanrand.

“Môre maak hy hulle dood,” het sy gesê

Volgens haar toon die beskuldigde geen berou nie, is hy nie ’n eerste oortreder nie en is direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis.

Gerber is tot drie jaar vir opsetlike saak­be­skadiging en vyf jaar vir poging tot moord gevonnis wat samelopend uitgedien kan word. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)