Ladismith Polisie slaan toe op onwettige dwelmperseel

Polisiebeamptes besig om die perseel waar die dwelms gevind is, te deursoek. Foto verskaf

DRIE mense is in hegtenis geneem en beslag is gelê op ’n verskeidenheid dwelmmiddels toe die Ladismith Polisie verlede week op ’n onwettige dwelm­perseel in Nissenville toegeslaan het.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, was polisiebeamptes Woens­dag 5 Mei omstreeks 09:15 op patrollie toe ’n man wat ’n bekende dwelmafsetplek verlaat het, begin hardloop het toe hy die polisiebeamptes sien.

Polisiebeamptes het hom agternagesit, voorgekeer en tik en ’n halwe Mandrax-tablet in sy besit gevind. Die 26-jarige is in hegtenis geneem.

Gewapen met ’n lasbrief het die polisie daarna die perseel in Bosmansingel deursoek en 12 Boss Mandrax-tablette, drie halwe tablette en 15 kwartstukkies-tablette gevind. Twee verdagtes, 18 en 26 jaar oud, is ook in hegtenis geneem.

Die stasiebevelvoerder van Ladismith, lt.kol. Pauline Kriel, het die gemeenskap bedank vir hul samewerking en inligting wat die polisie gehelp het om ’n lasbrief te kry. Die Eden-klusterbevel- voerder, genl.maj. Oswald Reddy het die beamptes se poging om dwelmverspreiding in hul omgewing uit te roei, geprys.