Troeteldierdag om gratis inenting teen hondsdolheid te bied

Bo: Oudtshoorn se burgemeester, Johan Allers (in die middle met blou hemp) saam met vrywilligers wat die dag aangebied het. Onder: ’n Hele aantal privaatstalletjies was deel van die troeteldierdag. Foto’s verskaf

September word jaarliks gebruik vir bewusmaking van hondsdolheid en daar word ook jaarliks ’n inentingsveldtog gehou om diere te laat inent. Verlede Saterdag, 13 September, het Animal Care
Team (ACT) in samewerking met die staatsveearts ’n troeteldierdag gehou waartydens eienaars hulle troeteldiere gratis kon laat inent.

Die dag is as ’n pretdag met stalletjies en aktiwiteite op die sportgrond langs die rolbalklub aangebied.

Volgens Elmarie Swiegers van ACT was die dag uiters suskesvol. Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het ook die dag se verrigtinge bygewoon.

Hy het daarop gewys dat verantwoordelike en liefdevolle dieresorg ’n onmisbare rol speel in die vestiging van gesonde en gebalanseerde huishoudings, en dat dit bydra tot die opbou van ’n
gemeenskap wat meer omgee en meer verantwoordelikheid aan die dag lê.

Dié troeteldierdag was in die verlede op die terrein van die staatsveearts by Van der Rietstraat 39 aangebied. Volgens Swiegers is vanjaar die eerste keer dat dit op die sportgronde van Hoërskool Oudtshoorn in St Johnstraat aangebied is.

Die dag was soos in die verlede, deur EdenFM met ’n lewendige uitsending gedek. Daar is weer op 24 September geleentheid vir troeteldiereienaars om honde en katte gratis teen hondsdolheid
te laat inent.

Dié geleentheid vind by die staatsveearts se geboue by Van der Rietstraat 39 plaas.

Troeteldiereienaars kan hulle honde en katte vanaf 09:00 tot 15:00 na die kantore neem vir gratis inenting teen hondsdolheid. (HANNES VISSER)