
Twee hekpilare van sandsteen voor die CP Nel-museum wat deur die jare begin verbrokkel het, word versterk en herbou.
Die vriende van die museum en die Raad van trustees van die CP Nel-museum het twee klipkappers van Lesotho aangestel om die herstelwerk te doen. Jeremy Setai en Samson Khoanyane het Maandag begin om die pilare af te breek.
Volgens Hazel Jonker, historikus en jarelange lid van Die vriende van die museum, het die gewig van die swaar ysterhekke die klipwerk van die pilare losgemaak en die pilare laat kantel.
Sy sê die pilare gaan nou met dieselfde sandsteenklippe herbou word, maar hierdie keer met ’n ysterstaaf in elke pilaar wat die gewig van die hekke kan dra.
Van Antwerp Sweiswerke het die ysterversterkings en die hegpunte vir die hekke gemaak. Volgens Jonker is daar verskeie plekke van die historiese sandsteengebou wat dringend herstel moet word en dat die hekpilare die eerste stap is.
“Jeremy se broer het al verskeie sandsteenprojekte vir ons gedoen, maar hy is tans elders in die land besig met klipwerk en gelukkig was Jeremy en Samson beskikbaar om die werk vir ons te kom doen,” sê Jonker.
Sy verwys tong in die kies na haarself as die projekbestuurder, maar gee toe dat die herbou van die twee pilare veel meer behels as wat sy gedink het. “Ek ry sement en sakke sand aan, huur kragtoerusting en verlengingskoorde en besef nou eers hoe min kragpunte so ’n ou gebou het,” spot sy.
Jonker is ’n kenner van Oudtshoorn se geskiedenis en erfenis en is een van ’n groep vrywilligers wat hulle beywer vir die voortbestaan, bewaring en benutting van die CP Nel-museum, die Le Roux Dorpshuis en ander erfenisgeboue. (HANNES VISSER)