Opwindende Afrikaanse boekefees vir die Tuinroete in November

Toe die drie skrywers, Sidney Gilroy, Chanette Paul en Hannes Visser vroeg in Januarie in die kantoor van Mosselbaai se burgemeester, Dirk Kotze, sit en vertel dat hulle ’n lees- en skrywersfees in Groot-Brakrivier beplan, het hy onmiddelik sy steun gegee.

Die eerste saadjie vir die Grootbrak Boekeblaf wat vanaf 7 tot 9 November in Groot-Brakrivier plaasvind, het ontkiem. Die drie organiseerders het die bekende musikant, Petronel Baard, genader om die aandprogramme saam te stel.

Die fees vind in die saal op die sportgronde van Laerskool Vorentoe plaas en die bekendste Afrikaanse skrywers in die Suid-Kaap neem deel. Besoekers kan uitsien na optredes van Sidney Gilroy, Carina Stander, Hendie Grobbelaar, Chanette Paul, Julio Agrelia, Hannes Visser, Petronel Baard, Jan van Tonder, Daniël Lötter, Chris Karsten, Bets Smith, Lluyle Arendse, Will Lass en Breyten Treurnicht.

Die fees word op Vrydag 7 November deur Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, Dirk Kotze, geopen waarna die skrywers, Sidney Gilroy, Chanette Paul en Hannes Visser hul stories met die musiek van Petronel Baard laat eggo.

Tydens die hoofprogram op Saterdag 8 November vind ver-skeie gesprekke met skrywers plaas en die dag word afgesluit met Grootbrakstories met Sidney Gilroy, Daniël Lötter en Lluyle Arendse met musiek deur Will Lass en Breyten Treurnicht.

Die Grootbrak Boekeblaf eindig Sondagoggend 9 November met ʼn ontbyt saam met die deelnemende skrywers en Karoostories deur Jan van Tonder en Hannes Visser.

ATKV-takke van die omgewing gaan Saterdag vir verversings sorg en boekverkope word behartig deur Laurette Campher van Boekmania wat al ’n bekende gesig by talle feeste is en telkens sorg vir ’n verskeidenheid boeke.

Kaartjies kos slegs R70 per gesprek, R150 vir elk van die aandprogramme en daar is ook ʼn dagkaartjie teen R350 beskikbaar vir Saterdag se gesprekke.

Besoek die Facebookblad Grootbrak Boekeblaf vir volledige inligting of skakel Hannes by 083 467 1522 vir algemene navrae. (HANNES VISSER)