Vrou wat rugbyspeler vermoor, kry tronkstraf

Die 26 jarige Felicia Afrika wat die gewilde rugbyspeler van die Bridgton Rugbyklub, Boutros May (29) in 2023 vermoor het, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn streekhof vir 15 jaar tronk toe gestuur.

Afrika het onskuldig gepleit en gesê dat sy die betrokke aand, 12 Februarie 2023, uit selfverdediging opgetree het nadat die oorledene haar glo twee keer geklap het.

Die verhoor het Maandag 1 September 2025 begin met die getuienis van twee staatsgetuies wat die betrokke aand saam met die oorledene by Sky Lounge, ’n kuierplek in St Johnstraat, was.

Tinsley Stuurman het getuig dat hulle na buite is toe iemand hulle meegedeel het dat motors se bande stukkend gesteek word. ’n Motorwag het hulle ingelig waarheen die verdagtes gestap het. Hulle het die groep by die Pasella-gebou in Adderleystraat gekry en hulle gekonfronteer.

Die kêrel van die beskuldigde het glo ʼn mes uitgepluk maar dit het geval en is deur Darren Coerecius opgetel. Volgens Stuurman het Coerecius toe die mes aan die oorledene gegee wat dit agter sy rug gehou het. Toe Afrika nader kom en die mes terugvra het sy glo die oorledene teen die bors gestoot en het hy haar teruggestoot.

Daar was ’n verdere stotery tussen die twee en oomblikke later het Afrika vir May met ʼn skerp voorwerp in die bors gesteek. Daarna was daar ook ʼn klipgooiery tussen die twee groepe.

Die tweede staatsgetuie, Ashwin Lucas, het getuig dat twee van sy motor se bande stukkend ge-steek is. Hulle het toe tot by Pasella gery en die groep wat daar gesit het, gekonfronteer. Hy het ook die mes wat die beskuldigde se kêrel laat val het, gesien.

Volgens hom het hy egter nie die mes gesien waarmee die beskuldigde die oorledene gesteek het nie. “Ek het net ʼn beweging gesien en toe kom bloed uit,” het hy getuig.

Op ’n vraag van die staatsaanklaer, Noluvuyo Ndinisa, of hy gesien het dat die oorledene die beskuldigde aanrand het hy nee geantwoord. “Die oorledene het nie die beskuldigde geklap nie en haar ook nie nader getrek nie. Boutros het nie die beskuldigde aangerand nie,” het Stuurman getuig.

Afrika het in haar getuienis erken dat sy die oorledene eenkeer gesteek het omdat sy haarself verdedig het. Volgens haar was sy geweldig geskok omdat sy nog nooit deur ’n man geslaan is nie.

Die staatsaanklaer het dit egter aan haar gestel dat haar lewe nooit in gevaar was nie en sy net kon wegstap. Sy het twee keer na die oorledene gegaan en probeer om die mes wat hy in sy hand gehad het probeer afneem. “U was die aggressor,” het Ndisina aan haar gesê.

Streeklanddros Ntsoki Moni het Afrika aan moord skuldig bevind en haar kommer uitgespreek oor vroue in Oudtshoorn en distrik wat moord pleeg.

Die hof kon geen wesenlike en dwingende omstandighede vind om van die voorgeskrewe minimum vonnis vir moord af te wyk nie en Afrika ook onbevoeg verklaar om’n vuurwapen te besit. (GARNETT WICOMB)