Toilette in informele woonbuurte: Top Loos vra tenderdokumente aan

Links: Inwoners uit infor­me­le woon­­gebiede in die Groter Oudts­­hoorn wat hul kommer oor die nuwe toilettender met Die Hoorn gedeel het. Agter hulle is toilette wat op ’n per­seel in Das­sie­weg ge­berg word en na bewering in ’n swak toestand is. Foto: Stefan Goosen

DIE maatskappy wat die afgelope meer as 10 jaar chemiese toilette aan informele woonbuurte in die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit verskaf het en dit onderhou, Top Loos, het die munisipaliteit versoek om vir hulle toegang te gee tot die tenderdokumente ingevolge waarvan ’n ander maat­­- skappy nou die tender gekry het vir die taak.

Die tender vir die verskaffing en onderhoud van 800 chemiese toilette binne die munisipale gebied is vir die volgende drie jaar aan Bidvest toegeken. Die nuwe termyn begin op 1 September.

Volgens Philip Olivier, een van die direkteure van Top Loos, het hul maatskappy volgens hulle inligting die hoogste puntetoekenning tydens die tender-evaluasieproses gekry. Hy sê hulle wil graag verstaan op grond waarvan die tender na al die jare nou aan ’n ander maatskappy toegeken is.

Top Loos het in Junie ’n beswaar by die munisipaliteit ingedien nadat die tender aan Bidvest toegeken is, maar die munisipaliteit het in Julie aangedui dat hulle by hul besluit hou.

Volgens die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, is die voorgeskrewe tenderprosesse gevolg – eers die tender-evaluasie en daarna die tender-beoordeling – en is die tender aan die firma met die hoogste puntetoekenning en die beste prys toegeken. Volgens hom was Bidvest se tender vir die 800 toilette R2 miljoen goedkoper as die volgende tender.

“Die prosesse is gevolg. Dit is die volste reg van enigeen wat dit nie gemaak het nie om dan beswaar aan te teken, wat wel gedoen en deur die munisipaliteit hanteer is.”

Macpherson sê daar was versoeke dat hy die saak moet ondersoek, maar dat hy as raadslid ingevolge wetgewing glad nie by tenderprosesse betrokke mag raak nie. Hy sê partye wat nie tevrede is met die toekenning van ’n tender nie, is ook welkom om hul tot die howe te wend.

Volgens hom het hy volle vertroue in die lede van die tenderkomitees, maar sal die munisipaliteit optree indien enigiets wat ongerymd is aan die lig kom.

Olivier sê op sy beurt Top Loos is ook bekommerd oor hoe hulle hul toilette uit die informele gebiede gaan verwyder, aangesien van die inwo­ners aangedui het dat hulle nie wil hê Top Loos moet onttrek nie. Hy sê baie inwoners in die gebied werk op deeltydse basis vir Top Loos terwyl hulle ook oor die jare goeie verhoudinge met inwoners opgebou het. Hulle verskaf gratis toiletpapier op plekke asook voorraad vir ’n weeklikse sopkombuis vir meer as 300 kinders by die Kanaal. (Deur Liesel le Roux)