ONTEVREDE inwoners van informele nedersettings in die Groter Oudtshoorn het Maandag ingange by die munisipaliteit gebou in Voortrekkerweg versper sodat niemand in of uit kon kom nie. Dinsdagmiddag is die N12 voor Hopeville (die De Rust-pad) met klippe versper en Woensdag voorwerpe buite die Volstruisabbattoir in Dassieweg verbrand. Dié optrede spruit volgens inwoners uit hul kommer oor die gehalte van chemiese toilette wat vanaf 1 September by hul huise geplaas word. Hulle dring daarop aan dat verteenwoordigers van die munisipaliteit met hulle gesprek voer.
Ontstoke inwoners wat Maandagoggend met Die Hoorn gepraat het buite die perseel in Bridgton waar van die “nuwe” toilette tans geberg word, kom van onder meer Hopeville, Saartjie Hill (Toekomsrus), Mangolaan, die Bridgton- en Bongolethu sirkel-omgewings, Die Kanaal, Black Joint, GG Kamp, Ou Skooltjie (Bongolethu), Bobby le Rouxstraat, Dysselsdorp en De Rust.
“Hulle moet my k#k uitlos, want dis veilig by Top Loos!” het Zyna Carelse-Nduma, inwoner van Hopeville en ’n woordvoerder van die inwoners aan Die Hoorn gesê. Volgens haar is inwoners ontsteld omdat die tender vir die verskaffing en instandhouding van die toilette oorgeskuif is na Bidvest. Bidvest neem die tender op 1 September oor nadat Top Loos die afgelope meer as 10 jaar daarvoor verantwoordelik was.
Carelse-Nduma sê die gemeenskap voel Top Loos lewer goeie diens, verskaf ordentlike toilette, maak twee keer per week skoon, en voorsien selfs toiletpapier aan die gemeenskap teen geen bykomende koste nie. Tweedens is die gemeenskap bekommerd oor die gehalte van die toilette wat Bidvest aan hulle gaan lewer. Sy sê die toilette op die perseel in Dassieweg is in ’n haglike toestand. “Hulle is vuil en stukkend en kom van ’n ander nedersetting af. Hulle is nog kleiner as die be-staande toilette. Ons sal hulle uitbrand as hulle die goed hier kom sit.”
Die Hoorn kon nie daarin slaag om toegang tot die perseel te kry om die toestand van die blou toilette te evalueer nie. ’n Werknemer van Bidvest by die hek het aangedui dat hy nie by magte is om toegang aan Die Hoorn te bied nie. Die Hoorn het later ’n oproep van George van Rensburg van Eden Sanitation Services, verskaffer van die blou toilette, ontvang waarin hy aangedui het dat Die Hoorn “Bidvest se regsdepartement” moet kontak vir toegang tot die toilette. Hy kon nie help met kontakbesonderhede nie.
Carelse-Nduma het gevra dat die Oudtshoorn Munisipaliteit die tenderproses ondersoek en sê die gemeenskap sal nie die nuwe maatskappy toelaat voordat hulle antwoorde kry nie. “Hoekom is daar ’n nuwe maatskappy wat dit oorneem?”
Volgens haar het die gemeenskap reeds op 18 Junie ’n petisielys en memorandum rakende die toilettender aan die munisipaliteit oorhandig.
Chrystal “Sussie” Johannes, nog ’n ongelukkige inwoner, het gesê die gemeenskap weier dat die nuwe maatskappy dienste aan hulle lewer. “Hulle moet nie ’n move maak op ons mense nie. Ek gaan nie eens sê wat sal gebeur as hulle dit doen nie.”
Jan van der Ross van De Rust het gesê die dorp se gemeenskap deel in die ongelukkigheid. “Wat op Oudtshoorn gebeur, gaan by ons ook gebeur. Die munisipaliteit moet ordentlik luister na die mense, en nie net doen en verwag mense moet gelukkig wees nie. Ons moet upgrades kry, en nie slegter toilette kry nie,” het hy gemaan.
Meer oor die tender op https://www.diehoorn.com/nuus/toilette-in-informele-woonbuurte-top-loos-vra-tenderdokumente-aan/ :
• Top Loos versoek die munisipaliteit vir toegang tot die tenderdokumente.
• Alle voorgeskrewe prosedures met die tender is gevolg en dit is toegeken aan die firma met die hoogste punte en beste prys – R2 miljoen goedkoper as volgende tender – sê munisipaliteit. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Onrus oor tydelike toilette in buurte
Inwoners versper die N12 (De Rust-pad) Maandagmiddag langs die informele woonbuurt Hopeville op Oudtshoorn. Foto: Stefan Skapie Goosen