Geen byeenkoms tans wettig sonder hierdie toestemming

Die grafiek toon hoe Oudtshoorn se Covid-19-gevalle klim, terwyl die res van die streek se gevalle daal. Grafiek: Heinrich Bosman

DIE burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, en die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smith, het Dinsdag in ’n gesprek met plaaslike koerante albei hul kommer uitgespreek oor die invloed van onder meer sportbyeenkomste, nagwake en die samedromming van mense by drinkplekke op die huidige skerp toename in Covid-19-gevalle in die gebied.

Die aantal positiewe Covid-19-gevalle in die Groter Oudtshoorn het tussen Maandag 2 Augustus en Maandag 16 Augustus van 411 tot 785 ge­klim – dus ’n toename van 374 gevalle, het Smith gesê. Gister was daar 814 positiewe Covid-19-gevalle op Oudtshoorn. Die aantal positiewe gevalle in die Groter Oudtshoorn in die eerste twee weke van die maand het dus met meer as 400 gevalle geklim.

Volgens Smith mag geen byeenkoms tans aangebied word as daar nie vooraf toestemming vir dit verkry is van die SAPD/Rampbestuur en die Provinsiale Gesondheidsdepartement nie.

Die kontaknommers vir toestemming is:
Departement Gesondheid: Mark Develliers (083 709 0292 / marc.develliers@westerncape.gov.za);
Rampbestuur: Irene Malgas (044 203 7806 / malgas@oudtmun.gov.za)
Oudtshoorn Polisie: 044 203 9002

Polisie ondersoek Vlakkie-kriekettoernooi
Die Oudtshoorn Polisie ondersoek tans ’n klagte in verband met die aanbieding van die Vlakkie-kriekettoernooi op Sondag 1 Augustus toe groot getalle toeskouers op ’n oop stuk grond langs die Bridgton Kliniek saamgedrom het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is ’n navraagdossier ge­open omdat daar tans geen beëdigde verklarings is dat ’n oortreding gepleeg is nie.

“Indien die ondersoek daarop dui dat die optrede krimineel was, sal dit na ’n dossier verander wat ’n kriminele klagte ondersoek.”

Met die land tans op Vlak 3 van die inperking, word ’n maksimum van 100 mense by byeenkomste buite toegelaat, terwyl Covid-regulasies soos afstandhouding en die dra van maskers toegepas moes word. Nie meer as 50 mense mag ’n byeenkoms binne bywoon nie. (Lees gerus aanlyn: https://www.diehoorn.com/nuus/covid-gevalle-styg-terwyl-inwoners-jol/)

Gerugte oor Covid by munisipaliteit oordrewe
Gerugte van talle Covid-19-infeksies onder werknemers van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit is volgens syfers wat Smith aan die pers verskaf het, oordrewe.

Volgens Smith is dit sy verantwoordelikheid om seker te maak dat werknemers veilig is en dat gesondheids- en veiligheidswetgewing toegepas word. Hy hou ook statistiek by en analiseer dit daagliks.

Hy sê die munisipale gebou word gereeld gesanitiseer, die die toilette drie maal per dag, terwyl die aantal mense in kantore beperk word.

Uit die 782 werknemers van die munisipaliteit het 86 sedert die eerste Covid-19-geval in Junie verlede jaar daar aangemeld is, positief getoets.

In 2020 was daar 51 Covid-gevalle, met 47 werknemers wat herstel en vier wat gesterf het. Tussen 1 Januarie en 30 April 2021 was daar 12 positiewe gevalle met almal wat herstel het. Daar was geen gevalle in Mei en Junie nie. Tussen 1 Julie tot 15 Augustus was daar 24 gevalle, met 18 wat reeds herstel het, vier werknemers wat gesterf het en twee weerknemers wat steeds positief is. (Deur Liesel le Roux)