Elke inwoner moet verantwoordelikheid aanvaar

Dit is belangrik dat elke lid van die gemeenskap verantwoordelikheid aanvaar om die verspreiding van Covid-19 en sterftes as gevolg van Covid-19 te voorkom.

Ons almal saam kan dit doen – nie net ter wille van onsself nie, maar ook ter wille van ander mense met wie jy in aanraking kom.

Die Delta-variant is uiters aansteeklik en het al die lewens van baie mense in die Klein Karoo geëis. Deur Covid-regulasies na te kom, jou masker te dra en afstand te handhaaf, wys jy dat jy omgee vir ander. Dis nie nou die tyd vir selfsug of venyn of verwyte of baklei nie, dis ’n tyd om mekaar te ondersteun en mekaar se laste te dra.

Dit is eerstens elkeen se verantwoordelikheid om hulleself te beskerm. Die munisipaliteit, die polisie, jou werkgewer, ens kan jou (en jou men­se) nie beskerm as jy nie self jou deel doen nie.

Word wakker. Ons almal saam kán dit doen.
– Liesel le Roux, redakteur, Die Hoorn