Jakkie Louw sing temalied vir Laurus se digbundelprojek

Jakkie Louw. Foto verskaf

DIE gewilde sanger Jakkie Louw en gebore Oudts­hoorniet, is die stem agter ’n “temalied” vir ’n digbundelprojek van die Laerskool Laurus op Oudtshoorn.

Dié temalied, Deur die oë van ’n kind, is ook deel van konserte die week op Oudtshoorn waarin Jakkie optree en waarin hy ook van sy nuwe musiek sing. Die eerste konsert was gister en die tweede vandag.

Jakkie sê hy is vroeër vanjaar deur ’n vriend en musikant, Willdrew Maya, gevra om betrokke te raak by Laerskool Laurus se digbundelprojek. Die temalied is aan Jakkie, wat tans in Pretoria woon, gestuur met die musiek en woorde deur plaaslike Oudtshoorn musikante.

Jakkie sê hy het so ’n bietjie aan die pragtige temalied se woorde geskaaf en dit teruggestuur vir goedkeuring.

Die temalied is in sy ateljee in Pretoria opgeneem en wil help met bemarking van die digbundel. Die liedjie is van gister aanlyn beskikbaar.

Jakkie se konserte saam met die plaaslike orkes is die loodsing van die liedjie en bundels. Hy sing ook van sy oorspronklike nuwe musiek wat eers op 3 September aanlyn beskikbaar sal wees.

Kaartjies is beperk as gevolg van die huidige inperkingsregulasies. Die konsert kos R100 per persoon en begin om 18:00. Almal is welkom. (Deur Liesel le Roux)