1ste winkels in nuwe Queen’s Mall al Oktober oop

’n Argiteksvoorstelling van hoe ’n deel van die nuwe groter Queen’s Mall in Oudtshoorn gaan lyk. Foto verskaf

BOUWERK aan die nuwe uitbreidings by die Queen’s Mall op Oudtshoorn vorder fluks, sê De Villiers Neethling van Vestsec Ten, die maatskappy wat die Queen’s Mall besit. Neethling is die projekbestuurder van die huidige uitbreidings by die sentrum.

“As ontwikkelaars is ons opgewonde oor die nuwe voorkoms van die Mall, asook die nuwe winkels wat na Oudtshoorn getrek word. Met die nuwe huurders wat bykom, sal die Mall ’n eenstop-inkopiebestemming word.”

Volgens Neethling is daar tans groot druk op die bouers om die eerste twee nuwe winkelblokke wat aan die voorkant van Pick n Pay opgerig word, teen 1 Oktober te voltooi sodat huurders kan begin om hul winkels binne in te rig.

Die winkels wat in dié twee blokke gehuisves gaan word, Footgear, Pick n Pay Clothing, Vodacom, Verimark en Meel & Kaneel, beoog om hul deure tussen 1 November en 1 Desember te open.

Eersgenoemde twee is nuwe winkels op die dorp.

Terselfdertyd sal drie huidige winkels in die Queen’s Mall, die Pick n Pay-drankwinkel, die Queens Apteek en die PNA, oor ’n tydperk van vier weke vergroot en opgegradeer word.

Neethling sê ’n paar interessante kleiner winkels sal ook oor die volgende twee maande in die res van die vakante ruimte intrek.

Bouwerk aan ’n derde winkelblok langs die eerste twee sal moontlik eers vroeg volgende jaar plaasvind nadat finale onderhandelings met potensiële huurders afgehandel is. Daar word ook onderhandel om later vanjaar te begin met bouwerk vir ’n Mr Price Sport by die sentrum. Dié winkel sal volgens beplanning in April volgende jaar sy deure open.

Daar word voorts tans bykomende parkeerplek vir voertuie geskep met 50 nuwe parkeerplekke wat in samewerking met die Oudtshoorn Munisipaliteit agter die CJ Langenhoven Gedenkbiblioteek ontwikkel word.

Die opgradering van die bestaande parkeerterrein en stormwaterbestuur sal ook aandag ontvang.

Neethling sê dit is vir die ontwikkelaars ’n groot prioriteit om die Queen’s Mall as ’n veilige inkopiebestemming te vestig deur die huidige sekuriteitstelsel verder uit te brei met die hulp van nuwe tegnologie en nog kamerastelsels. (Deur Liesel le Roux)