Thys oorlede ses maande ná aftrede

Thys Goliath. Foto: Garnett Wicomb

DIE bekende blokman van Oudtshoorn, Thys Goliath (65), is Woensdag, 11 Augustus, oorlede.

Goliath is volgens sy vrou, Lorna, aan brongitis en vog op die longe by sy huis in Sprucestraat, Bridgton, oorlede. Sy sê hy het geweier om hospitaal toe geneem te word.

Dié bekende blokman, alombekend as Oom Thys, het op 6 Februarie vanjaar ná 50 jaar die tuig by De Lange Slaghuis in Uniestraat neergelê. Die vriendelike Goliath was bekend en gewild as ’n blokman wat sy kliënte se voorkeure gou leer ken het en altyd die beste vir hulle probeer doen het.

Hy moes op 15 jaar die skool verlaat om sy ouers met die huishouding te help en het by die destydse Rademeyer Slaghuis in Voortrekkerweg begin werk. Hy het daarna by ’n slaghuis in Hoogstraat langs die huidige Baron’s Palace gewerk, asook by ’n slaghuis in Voortrekkerweg en die laaste sewe jaar by De Lange Slaghuis, waar hy steeds soms uitgehelp het. Hy het ná sy aftrede ook steeds slaggoed vir mense by sy huis opgesaag.

Goliath word oorleef deur sy vrou, drie dogters, ’n seun en 10 kleinkinders. Hy word Saterdag ná ’n diens om 10:00 by sy huis te Sprucestraat 157, Bridgton ter ruste gelê. (Deur Garnett Wicomb)