Tweede boek vir oud-gevangene

Cedric Afrika (regs) met sy boek net voor ’n onderhoud met Heartbeat FM se Elisabé Barry. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE bevryding wat ‘n Oudtshoorniet, Cedric Afrika (50), as gevangene in ’n eenvoudige potlood en papier gevind het, bly vrug dra, en het daartoe gelei dat hy sy tweede boek, Noodkreet, net betyds vir Vrouemaand bekend gestel het.

Cedric is in 2016 op Oudtshoorn skuldig bevind aan bedrog waarvoor hy 15 jaar tronkstraf gekry het. Hy vertel dat dit toe gevoel het asof sy lewe tot stilstand gekom het. “Dit is maar ’n teer saak, maar as iemand my vra, dan praat ek daaroor – ek het immers vir my sondes betaal,” sê hy.

Hy is verlede jaar nadat hy suksesvol teen sy vonnis geappelleer het en op grond van die “Covid-19-afslag” voorwaardelik op parool vrygelaat. Ná sy vrylating het hy die skrywes wat hom van sy tronksel se verdoemenis gered het in sy eerste boek, Kinders van die Hoorn, omskep.

Sy tweede boek, Noodkreet, se oorsprong was dié einste tronksel, maar Cedric vertel hy het dit eers klaargeskryf nadat hy vrygelaat is.

Cedric sê hy het sy inspirasie vir Noodkreet gekry uit ’n Huisgenoot-storie geskryf deur Corlia Muller, wat deur haar kêrel mishandel is. “Dit handel oor geslagsgebaseerde geweld en ook gesinsgeweld, en die invloed wat dit op mense se lewens het. Ek glo dat hierdie kwessies in die verlede tradisioneel onder die mat gevee is.

“Mense praat nie maklik oor hul huissake nie. ’n Mens kry nog vrouens wat die man probeer beskerm wat haar mishandel uit vrees vir vergelding deur hom. Vroue word selfs finansieel mishandel deurdat die man geld van haar weerhou om haar as’’t ware te regeer,” vertel hy.

Volgens Cedric het hy selfs gaan navorsing doen oor die kwessie by die tronk se maatskaplike werker. Hy het ook met sy vrou gesels wat deur haar werk kennis van die onderwerp het.

“Dit is vir my ’n sensitiewe saak omdat my pa abusive was. Ek wil graag ’n verskil maak.”

Die nuwe boek handel oor twee vroue; een ’n slagoffer van verkragting, en die ander ’n slagoffer van gesinsgeweld. “Hulle het twee uiteenlopende persoonlikhede, maar hulle is boesemvrinne. Een van hulle fight ’n silent battle weens mishandeling. Sy bly stil uit vrees vir haar man. Haar vriendin kom wel agter iets is verkeerd, maar dinge het so ver gegaan dat hul vriendskap skipbreuk lei. Die gesinsgeweld het haar vervreem van die mense wat vir haar omgegee het,” verduidelik hy, sonder om te veel van die boek weg te gee.

Volgens Cedric moet die verkragtingslagoffer op haar beurt weer ou wonde oopgrawe nadat die mans wat verantwoordelik was vir die grudaad ’n jaar later eers in die hof verskyn. “Sy het besluit sy gaan opstaan vir mishandelde vroue en mense wat gemolesteer is en wat dalk nie ’n stem het om iets te sê nie weens daai einste vrees vir vergelding van hul aanvallers,” vertel hy.

Die oogmerk van die boek, sê Cedric, is om mense aan te moedig om te praat. “Breek die ketting van mishandeling.”

Oor die bekendstelling van sy boek, wat volgens Cedric ses maande gevat het om te skryf, het hy min woorde. “Ek is baie opgewonde! En my familie is saam met my famous.” Hy voeg by die skryf van die boek sou nie moontlik gewees het nie sonder die reuse rol wat sekere tronkbewaarders in sy lewe en rehabilitasie gespeel het. (Deur Stefan Skapie Goosen)