Toerisme, Besigheid, Agri, dalk ‘uitgesit’

Die gebou op Oudtshoorn - op dieselfde perseel as die CP Nel Museum - wat sedert 2010 Oudtshoorn se toerismekantoor, die Besigheidskamer asook die Oudtshoorn Agri huisves. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Wes-Kaapse minister van kul­tuur­sake en sport, Anroux Marais, besoek Oudtshoorn Vrydag om on­der meer ’n oplossing te probeer bemiddel vir pogings om Oudtshoorn Toe­risme, Oudtshoorn Agri en die Oudtshoorn Besigheidskamer uit die gebou in Voortrekkerweg te verwyder. Hulle huur die gebou sedert 2010.

Die uitsettingsbevel is deur die raad van die CP Nel Museum verkry nadat hulle aanvanklik eers net die huur van die drie huurders wou verhoog.
’n Lang regsproses oor die aangeleentheid is al meer as twee jaar tussen die museumraad en die huidige huurders aan die gang.

Volgens Oudtshoorn se burge­mees­ter, Chris Macpherson, het hy die minister genader om te kom help om die kwessie te besleg aangesien die museumraad volgens hom nie die reg het om die drie liggame uit die gebou te sit nie.

Die museumterrein en -geboue behoort aan die munisipaliteit, maar word sedert 1975 aan die Wes-Kaap­se Regering vir 10 sent per jaar verhuur. (Dié huur word nie betaal nie.)

Toerisme, Agri en die Besigheids­kamer het die gebou in Maart 2010 betrek na ’n inisiatief op die dorp om die gebou in ’n dienspunt vir toe­ris­me, landbou en die besigheidsektor te omskep. Voor dit was dit ’n on­oog­like kuierplek bekend as Die Oog.

Die inisiatief hiervoor is deur die destydse Oudtshoorn Ekonomiese Forum (OEF) geneem in samewer­king met die munisipaliteit en, volgens Die Hoorn se inligting met die ope­ning in 2010, ook deur die mu­seum­raad.

Volgens Piet Lodder, des­tydse voorsitter van die forum, was dit vir almal sinvol om dié eiendom in ’n tuiste te omskep vir die drie sleutelrolspelers in Oudtshoorn se eko­nomie. (Deur Liesel le Roux)