So lyk situasie met grondbesettings, paaie, dienslewering en finansies

Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, tydens
Maandag se pers konferensie. Foto: Liesel le Roux

HOPEVILLE, die informele nedersetting tussen die Oudtshoorn Begraafplaas en die Oudtshoorn Gholfbaan, is een van 27 soortgelyke stukke grond in die Groter Oudts­hoorn wat tans onwettig beset word.
So het die Groter Oudtshoorn se burgemees­ter, Chris Macpherson, Maan­dag tydens ’n perskonferensie gesê.

Volgens Macpherson bepaal wetge­wing dat geen persoon tydens Covid-19 verwyder mag word van grond as hy of sy enige struktuur daar opgerig het nie. Ook die struktuur mag nie verwyder word nie.

Dit geld ook vir mense wat op plase tydelike strukture oprig.

Daar word voorts vereis dat ’n toilet vir elke vyf mense verskaf word – die koste is R550 elk – en ook drinkwater voorsien word.

Macpherson sê dit laat die munisipa­liteit met ’n finansiële dilemma omdat daar nie in die vorige begroting voorsiening gemaak is vir dié grondbesettings met mense wat nie verwyder mag word nie.

“Daar was nie toe Covid-19 en Covid-19-reëls nie. Waar Hopeville aanvanklik net ’n paar grondbesetters gehad het wat ’n punt wou maak, is daar nou meer as 100 opslaanhuise.

“Daar is nie voor begroot nie. Ons sou eintlik vir elke huis ’n toilet en kraan wou gee, maar dit is finansieel net nie moontlik nie.”

Macpherson sê daar is ongelukkig ook mense wat geld probeer maak uit die hele situasie en byvoorbeeld grond in Hopeville “verkoop”.

“ ’n Opname van mense wat nou daar bly, het getoon daar is onder meer mense van Oudtshoorn en Dysselsdorp daar wat hul huise verhuur.”
Hopeville is duidelik ’n groot bron van kommer vir die munisipaliteit en inwo­ners.

“Die grafte kan nie skuif nie, al kla mense wat daar woon daaroor, en die gholfklub praat van toemaak omdat dit gevaalik raak om daar te speel.

Daar is al mense aangerand en op een van die bowwe is slote gegrawe deur kinders wat daar wou speel.”

Dit is volgens Macpherson die enigste 18-putjie-gholfbaan in die Klein Karoo en het oor die jare baie mense na die dorp getrek en daardeur ’n groot bydrae tot die dorp se ekonomie gemaak. Sluit die gholfbaan, is dié inkomste verlore.

“Ons hande is afgekap om op enige manier daar op te tree. ’n Draad wat daar opgerig is om mense uit te hou, het net een dag lank gehou.”

Die munisipaliteit moet voorts al so­veel water na al die tydelike nedersettings aanry, dat daar nie genoeg waterkarre beskikbaar is om dit slegs op weeksdae te doen nie. Omdat van die waterkarre ook naweke moet ry, het dit tot gevolg dat na-uurse fooie aan die munisipale werkers betrokke betaal moet word.

Macpherson sê dit is onwaar dat die munisipaliteit boumateriaal vir plakkers gee.

’n Spesiale werksessie vir alle raads­lede oor hoe om die situasie van onwettige besettings “regverdig vir almal be­­­trokke” te hanteer, sou gister plaasgevind het.

Dienslewering en finansies
Die prioriteit vir die munisipaliteit is tans die lewering van basiese dienste en om seker te maak elke sent word omgedraai en nie onnodig gespandeer nie, het Macpherson gesê.

“Werksessies met die topbestuur van al die departemente by die munisipaliteit is verlede week gehou, en die doelwit vir die jaar was net een ding: dienslewering.

“Ons doelwit is om seker te maak die basiese dienste, water, elektrisiteit, ens word gelewer.

“Dit is ook vir ons ’n prioriteit om seker te maak dat elke werknemer sy salaris kry. ’n Paar jaar gelede moes die munisipaliteit geld leen om die personeel te betaal en ons wil vermy dat dit weer gebeur.”

Volgens Macpherson is talle munisipaliteite in die land finansieel in die moeilikheid as gevolg van die uitwerking van Covid-19 asook omdat

Nasionale Te­sourie sy bydrae tot munisipaliteite met R17,4 miljard gesny het.

“Talle munisipaliteite kan tans nie hul personeel betaal nie en ander kan ook nie Eskom betaal nie. Ons kan gelukkig steeds ons verpligtinge nakom.

“Ons moet egter voortaan elke ding wat ons doen met ’n fynkam deurgaan.

Daar sal byvoorbeeld streng na na-uurse werk gekyk word.

“Ons hoop dat na ons gesprekke met die verskillende departemente die klagtes oor munisipale personeel wat tydens werks­ure op straat is, nou iets van die ver­lede sal wees. Daar is weerstand van die pu­bliek as mense voel die munisipale personeel werk nie.”

Opgradering van strate
Macpherson sê meer inligting oor die onderhoud en opgradering van strate sal binnekort bekend gemaak het. Die muni­- si­paliteit het hiervoor ’n lening aangegaan om te verseker die onderhoud hoef nie oor te staan nie. (Deur Liesel le Roux)