Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, tydens Maandag se pers konferensie. Foto: Liesel le Roux
KWESSIES soos die ellelange toue in die middedorp met honderde mense wat dae lank wag op maatskaplike toelaes; inwoners wat onbeheers vullis neergooi en naamborde steel, en die toename in onwettige grondbesetting is Maandagmiddag deur die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, aangespreek in ’n gesprek met Oudtshoorn se twee plaaslike koerante.
SASSA-toue – ’n onmenslike situasie vir diegene in nood
“Ons moet ’n oplossing vind vir die situasie by die poskantoor,” het Macpherson gesê oor die lang toue mense wat elke maand vir dae lank in die middedorp toustaan, dikwels sonder maskers en sosiale afstand. Humeure het verlede week daar opge- vlam en twee messteekvoorvalle het plaasgevind.
Volgens Macpherson ontvang hy baie klagtes van inwoners en besighede wat nie meer kans sien om die middedorp te gebruik nie. Volgens wetgewing mag die wetstoepassers (daar is net 11 vir die hele Groter Oudtshoorn) net mense vra om maskers te dra en afstand te handhaaf, en het mense die reg om in die middedorp te wees.
Macpherson sê sy hart bloei vir die mense wat op Oudtshoorn en landwyd die slagoffers is van ’n maatskaplike stelsel wat nie werk nie en daarom dae lank in toue moet wag. Volgens hom is verskeie voorstelle al aan die departement maatskaplike ontwikkeling gemaak om byvoorbeeld nog betaalpunte te skep of ’n stelsel te vind dat mense ingedeel word in groepe om op verskillende dae te kom, maar is geen reaksie ontvang nie.
“Dit is ’n skande dat ons regering nie gereageer het op ons versoek om die toelaes uit te brei na ander plekke nie. Hoe kan ons dit wat nou gebeur laat voortgaan? Daar is mense wat R50 vir ’n taxi moet betaal en ’n hele dag in ’n tou staan, en dan sonder iets huis toe moet gaan en weer ’n taxi moet betaal. Mense betaal ook plekhouers tot R100 om reeds die vorige nag vir hul plek te hou in rye. Ek wou toilette laat opsit, maar mense sê hulle kan nie uit die ry gaan vir ’n toilet nie, want dan verloor hulle hul plek. Ons is moedeloos. Minister Anton Bredell is al moedeloos. Ons kry geen reaksie van die departement nie en sal graag wil help met oplossings.”
Volgens hom is die voorstel dat die mense eerder moet toustaan op die oop stuk grond agter die poskantoor nie haalbaar nie omdat die eienaars van die terrein dit nie wil toelaat nie.
Vullisstorting en diefstal
Twee dae nadat die munisipaliteit in die woonbuurte skoongemaak het, is dit weer net so vuil soos voorheen, sê Macpherson.
“Die situasie raak al hoe erger en erger. Ek is bevrees oor wat die toekoms inhou as ons nie self eienaarskap van ons dorp gaan neem nie.”
Hy sê selfs ’n skoonmaakprogram waarby werkers van die regering se Extended Public Works Program (EPWP) sedert November betrokke was, het nie gehelp nie.
“ ’n Dag of twee daarna lyk dit weer net so. Ons het een Vrydag vyf en twintig geen storting-borde opgerig wat aandui dat vullis nie daar gegooi mag word nie. Die Saterdag was al die borde afgesny en weg.
“Mense begin nou ook stoptekens steel. Die huidige situasie werk nie. Ons probeer tans saamwerk met die distriksraad oor ’n soort boetestelsel.”
Macpherson het inwoners versoek om die munisipaliteit te kontak as hulle mense sien wat vullis neergooi.
• Meer op https://www.diehoorn.com/nuus/so-lyk-situasie-met-grondbesettings-paaie-dienslewering-en-finansies/ : Macpherson praat oor die onderhoud en opgradering van strate, onwettige grond-besetting, dienslewering en finansies.
