Toe trap Katot (74) 12 ure lank op ’n 1986-Raleigh…

Katot Meyer (74) met sy 1986 Raleigh-fiets waarop hy die 110 km na sy plaas naby De Vlucht en Avontuur in die Langkloof binne 12 ure afgetrap het! Foto: Henties de Villiers

HY het die 110 km-lange pad vanaf Oudtshoorn na sy natuurreservaatplaas Pietersrivier* naby De Vlucht en Avontuur in die Langkloof so effens onderskat, sê die 74-jarige Katot Meyer, bekende natuurliefhebber en avonturier van Oudtshoorn.

Hy het gedink dit gaan hom so agt uur vat om dié ent pad, wat heelwat opdraandes insluit, met sy 1986 Raleigh-fiets met drie ratte af te lê. Toe vat dit hom twaalf uur…

Meyer moes sy Land Rover op Pietersrivier gaan haal nadat hy dit die vorige week daar gelos het om sy trekker na Oudtshoorn te bring. Hy moes dus noodgedwonde sy Land Rover op die plaas los en daarom ’n plan maak om dit weer op Oudts­hoorn kry.

Pleks daarvan om iemand te vra om hom Pieters­rivier toe te vat, het Meyer egter besluit om met sy fiets plaas toe te ry!

Dié ou fiets is nog van yster gemaak, tot die modderskerms is van metaal, en weeg 20 kg.
In sy fiets se rak, gemaak van ’n ou stuk winkelrak, was sy slaapsak en matrassie om op Pieters-rivier oor te slaap en kos vir twee dae – ’n paar vetkoeke, twee soorte konfyt, botter, vyf piesangs, neute en rosyne asook teesakkies en kondensmelk.

Die vrag het 10 kg geweeg, sê hy.

Meyer het Vrydag, 3 Desember, vroegoggend om 04:15 by sy huis in Jan van Riebeeckweg in die pad geval.

“Ek het gehoop om gemiddeld 15 km per uur te ry. Die 110 km sou my dan minder as agt uur vat,” vertel hy.

Die roete wat hy gery het, het 60 km uit ’n grondpad en 50 km uit ’n teerpad bestaan en verby die Oudtshoorn Proefplaas tot by Heimersrivier se kruis gelei. Van daar is hy deur Eselsjachtpoort tot op die Uniondale-teerpad, verby Nolshalte tot by die De Vluchtpad wat sowat 20 km van die Bo-Keurboomsrivier af loop tot by Pietersrivier.

Volgens Meyer het hy, kaalvoet en al, by die lang styl opdraandes sy fiets, wat nie ’n klimrat het nie, ge­stoot om energie te bespaar.

Hy vertel hy het by Eselsjachtpoort krampe in sy bene begin kry. Hy was genoodsaak om sy bene self te masseer en het piesangskille as smeermiddel vir die massering gebruik.

“Naby Nolshalte het ek besef ek het nie genoeg soute ingekry nie en het toe by die Bo-Kloofwinkel by Eensaamheid ’n teelepel en ’n half sout gebedel. Dit het darem gehelp dat die krampe minder raak.”

Sy enigste ander teëspoed was toe sy fiets se remkabel na die agterwiel teen ’n lang afdraand by Kykoe gebreek het.

“Al het ek my breed gehou dat wind en my voorste remme my vaart effens gestuit het, het ek teen dié afdraande waarskynlik my topspoed van die dag behaal! Daarna het ek versigtig gery en meer kere gestap, ook teen die styl afdraandes, want om net die voorrem te gebruik as ’n mens vinnig op ’n grondpad ry, is moeilikheid soek.”

Meyer het eindelik kort voor 16:00 pootuit op die plaas opgedaag.

“Nadat ek vetkoek geëet en tee gedrink het, het ek so vyfuur gaan slaap totdat die son my die volgende oggend vyfuur wakker gemaak het.”

  • Pietersrivier is ’n rentmeesterskapnatuurreservaat. Hoewel die grond aan Meyer behoort, het hy ’n ooreenkoms met CapeNature om dit as ’n natuur­reservaat te bedryf.

    CapeNature verskaf ’n bestuursplan met bewa­ringsriglyne wat nagekom moet word. Op sy beurt verskaf Katot inligting aan hulle oor fauna en flora wat hy in die gebied waarneem.

    Hy help ook om die biodiversiteit van die omgewing te bewaar en die gebied as wateropvanggebied te beskerm en te herwin deur indringerbome en -plante uit te roei.

    Met Cape Nature se goedkeuring benut Katot Pietersrivier vir toerismedoeleindes.
    Dit behels kampeerplekke en staproetes, asook ’n botaniese ossewa- en sleeroete waarop 4X4-eienaars die omgewing kan verken. (Deur Schalk le Roux)