DIE vroue van die Groter Oudtshoorn en omgewing het hier aan die einde van 2021 weer hul kant gebring deur 550 wolbeertjies en ander woldiertjies te hekel en te brei om kinderharte in die Kerstyd te help bly maak.
Die Rotariërklub van Oudtshoorn het verlede week Krismisbokse vir kleuters in voorheen benadeelde kleuterskole uitgedeel.
Maar benewens die gewone geskenkpakkies het elke kleuter vanjaar ook ’n wolspeelding bygekry!
Die Rotariërs het vroeër vanjaar besluit om ’n wolbeertjieprojek te begin en die KKNK genader wat die baie suksesvolle ReWOLusie-projek met vorige kunstefeeste aangebied het.
Die KKNK, wat danksy ReWOLusie toegang het tot baie vroue wat hekel en brei, het dadelik ingewillig om by die projek betrokke te raak.
Die gevolg was wolspeelgoed vir 550 kinders!
Lezelma Pretorius, president van die Oudtshoorn Rotariërklub, het elke vrou wat een of meer beertjies gehekel of gebrei het, bedank vir hul oorweldigende geesdrif om die projek suksesvol te maak.
Pretorius het ook al die skole wat Krismisbokse opgemaak en geskenk het asook skole wat gehelp het om die Krismisbokse te verf, bedank vir hul bydraes.
Die laerskole is Van Reede, Wesbank en Laurus asook Little Bo Peep-kleuterskool.
Die Oudtshoorn Rotariërs, wat benewens die bydraes die Krismisboks-projek self befonds, het vanjaar altesame meer as 600 pakkies by 12 kleuterskole uitgedeel. (Deur Schalk le Roux)
550 wolbeertjies vir kinders!
