Dit is die redes waarom Grotte se deure gesluit was

’N BESLUIT van munisipale bestuur om die Kango Grotte Saterdag te sluit sodat die gidse na die begrafnisdiens van ’n kollega kon gaan, is na deeglike oorweging en nadenke geneem, sê die waar­nemende munisipale bestuurder van die Gro­ter Oudtshoorn Munisipaliteit, Walter Hendricks.

Hendricks het gereageer op kritiek nadat besluit is om dié bekende toerismebesienswaardigheid vir ’n dag aan die begin van die vakansieseisoen te sluit.

Hy sê die besluit is weens menslikheidsredes geneem.

Gidse by die Kango Grotte het ’n versoek aan die munisipale bestuur gerig om Saterdag die begrafnis van Theo Gaba in Graaff-Reinet by te woon en so hul laaste eer aan hom te bewys.

Gaba was langer as 10 jaar ’n gids by die Grotte, en geliefd en gerespekteer deur kollegas en ander wat hom geken het.
Hendricks sê die bestuur het besluit om die versoek goed te keur uit ’n humanitêre oogpunt, terdeë bewus van die finansiële gevolge.

“Die Grotte sal slegs Saterdag gesluit wees en dit is nie ’n voorval wat gereeld voorkom nie. Geen bedrag geld kan geheg word of vergelyk word met ’n verlies van lewe en hartseer nie,” het hy Vrydag gesê.

Hendricks het egter aangedui dat die bestuur in die toekoms in ’n soortgelyke situasie anders mag besluit.

Pierre Jordaan, wat ’n Facebookblad, Oudts­hoorniete staan saam, bedryf, het Vrydagoggend op die blad geskryf dat hy hoop dat die munisipaliteit en toerismebedryf ’n ander oplossing sal kan vind as om die Grotte ’n dag aan die begin van die vakansieseisoen te sluit, soos die hou van ’n gedenkdiens vir Gaba by die Kango Grotte.

Hy motiveer sy standpunt onder meer so: “Die Kango Grotte is een van die Wes-Kaap se grootste toeristebates wat saam met die volstruisplase duisende mense lok na die dorp sowel as na die hele Tuinroete, toeriste wat baie geld inbring waaruit die hele gemeenskap direk of indirek voordeel trek. Toerisme regoor Suid-Afrika het die afgelope 18 maande miljoene rande skade gely en duisende mense het, veral in die Wes-Kaap, hul werk in die toerismesektor verloor.”

Mense wat op die inskrywing gereageer het, was verdeeld. Hoewel talle Jordaan gesteun het, was baie ander van mening dat menslike oorwegings tog belangriker is as finansiële redes. (Deur Liesel le Roux)