Tien jaar vir moord

’N 26-jarige man van Oudtshoorn wat skuldig gepleit het op ’n klagte van moord, is in die Oudtshoorn Streekhof tien jaar gevangenisstraf opgelê.

Shane Wolmarans sê in sy pleitverduideliking dat hy die betrokke dag (7 Maart 2021) deur die oorledene, Heinrich Roman (18), en sy vriende ge­konfronteer is en hy Roman uit self­verdediging een keer met ’n mes gesteek het.

Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê dit is hartseer dat Wolmarans sy lewe met die ge­bruik van dwelms vernietig het Vol­gens haar droom baie kinders oor die geleenthede wat sy ouers hom gebied het. Hy was bevoorreg om ’n goeie werk by die munisipaliteit te hê en kon ’n BCom-graad agter sy naam kan skryf.

Die oorledene was die pa van ’n tweejarige kind en volgens ’n slagoffer-impakverslag van die ma moet sy voortdurend vrae van die kind beantwoord wanneer hulle na die begraafplaas gaan.

Volgens die landdros was Wolma­rans se optrede onnodig. Hy is volgens die staatsaanklaer, Brandon Smith, spesiaal huis toe om die mes te gaan haal en het met geweld ’n gevaarlike wapen gebruik om moord te pleeg. Sy vriende het hom probeer keer, maar hy het nie geluister nie.

Die hof het afgewyk van die minimum vonnis van 15 jaar omdat Wolmarans skuldig gepleit het, berou toon en drank en dwelms ’n rol gespeel het. “Watter vonnis ook al opgelê word, sal nie die oorledene terugbring nie, het die landdros gesê en gesê haar kommer is waar hy na sy vonnis weer ’n goeie werk sal kry. (Deur Garnett Wicomb)