Hugo Theart (regs), nuwe artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, word deur Crispin Sonn, voorsitter, met sy aanstelling geluk gewens.
KUNSTE ONBEPERK, die maatskappy wat die KKNK, Klein Karoo Klassique en die Teksmark aanbied, het ’n nuwe artistieke direkteur.
Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, het Vrydag by Kunste Onbeperk se algemene jaarvergadering bekend gemaak dat Hugo Theart, wat die afgelope jaar as waarnemende hoof waargeneem het, aangestel is as die nuwe artistieke direkteur met ingang 1 Februarie.
“Die direksie wil, met die oog op die toekoms, Kunste Onbeperk as ’n kreatiewe maatskappy lei en het daarom besluit om weg te beweeg van die titel uitvoerende hoof en ’n artistieke direkteur aan te stel. Ons sien uit na die toekoms saam met Hugo en dat sy kreatiwiteit en leiding die maatskappy in die komende jare sal laat groei,” het Sonn gesê.
“As direksie het ons groot waardering vir die rol wat Kunste Onbeperk se personeel, met Hugo se leiding, oor die afgelope paar maande gespeel het. Hulle het die afgelope tyd met uitsonderlike vermoë die administrasielas gedra.”
Theart het in 2015 as kreatiewe hoof by Kunste Onbeperk aangesluit en sedert Januarie 2018 as uitvoerende hoof waargeneem.
“Ek is dankbaar vir die geleentheid en opgewonde oor wat die maatskappy in die volgende paar jare kan vermag. Kunste Onbeperk en projekte soos die KKNK het ’n belangrike en groot rol om in die kunste te speel en deur die kunste, sosiale samehorigheid in ons land bevorder,”sê hy.