Deur Liesel le Roux
DIT is duidelik nie speletjies om tans ’n groot kunstefees te midde van ’n uitdagende Suid-Afrikaanse ekonomie en strawwe onderlinge kompe- tisie vir borgskappe vir die kunste aan te bied nie.
“Dit is ’n uitdagende omgewing,” het Johannes van Niekerk, direksielid betrokke by die finansies van Kunste Onbeperk, Vrydag by die Algemene Jaarvergadering van die maatskappy gesê. Kunste Onbeperk is die aanbieder van die KKNK, Klein Karoo Klassique en die Teksmark.
Volgens Van Niekerk dek kaartjieverkope sowat 40% van die produksiekoste om die KKNK aan te bied en moet die res van koste deur borgskappe gedek word.
Crispin Sonn, voorsitter van die Kunste Onbeperk-direksie, het gesê ten spyte daarvan dat daar regoor die land stywe kompetisie is vir dieselfde borge vir die kunste, het Absa besluit om hul borgskap as hoofborg van die fees vir nog drie jaar voort te sit. Hy het ook bekend gemaak dat die Jannie Mouton Stigting ook pas ’n borgskap van drie jaar met die KKNK gesluit het.
Die KKNK het ook ’n tweejaarkontrak met Dryland Event Management gesluit om die KKNK by te staan met logistieke bestuur. Bernard le Roux, ’n voormalige bedryfshoof van Kunste Onbeperk, sal as Dryland se verteenwoordiger optree. Dryland is die aanbieder van verskeie van Suid-Afrika se grootste fietswedrenne.
Linda Marques, wat reeds 18 jaar by die KKNK en Kunste Onbeperk werk, beklee nou die pos van algemene bestuurder.
Sonn het teenwoordiges verseker dat Kunste Onbeperk, ten spyte van die huidige wêreldwye ekonomiese uitdagings, gesond is en dat daar hard agter die skerms gewerk word om die welstand van die maatskappy vir die volgende dekades te verseker.
Hy het ’n beroep op Oudtshoorniete gedoen om met geesdrif by vanjaar se 25ste KKNK betrokke te raak.
Hy het gesê Kunste Onbeperk is dankbaar oor die samewerking wat hulle kry van die dorp se sakekamers, die munisipaliteit en van inwoners.
Tydens vraetyd het Alie Killian, besturende direkteur van die Queen’s Hotel, daarop gewys dat Klein Karoo Klassique met sy stigting dit ten doel gehad het om ook die kos en wyn van die streek en so die plaaslike ekonomie te bevorder, maar dat die tydelike restaurant by die venue waar al die optredes verlede jaar plaasgevind het, plaaslike eetplekke erg benadeel het.
Hy het gevra dat hieraan aandag geskenk moet word.