Verkragting: oud-amptenaar van Prins Albert skuldig

Deur Garnett Wicomb
’N VOORMALIGE munisipale amptenaar van Prins Albert is verlede week in die streekhof op Oudtshoorn aan die verkragting van ’n skool­meisie skuldig bevind.

Streeklanddros Daniel Boks het die getuienis van Richard Franzen (42), voormalige persoonlike assistent van die munisipale bestuurder van Prins Albert, as vals en leuenagtig verwerp.

Franzen is daaraan skuldig bevind dat hy in April 2015 die 19-jarige hoërskoolleerder se hande en voete vasgebind, haar oë toegebind en ook ’n lap in haar mond gedruk het, voordat hy haar na sy slaapkamer gedra en verkrag het.

Franzen het die meisie die betrokke dag saam met haar moeder en ’n vriendin in die dorp gesien en haar gevra om saam met hom na sy huis te gaan omdat hy sy boekie met telefoonnommers moes gaan haal.

Hy het ook belowe dat hy sal help om haar weer in die skool te kry.

Franzen het haar na die verkragting langs die pad afgelaai.

Die hof het bevind dat die klaagster se getuienis geloofwaardig was, terwyl dit nie van Franzen gesê kon word nie.

Die klaagster het ’n chronologiese uiteensetting van gebeure gegee hoewel sy nie die presiese datum kon onthou nie.

Sy het getuig dat sy ’n maagd was tydens die voorval. Sy was bang en skaam daarna en het daarom nie onmiddellik daarna ’n saak gemaak nie.

Franzen se getuienis dat sy kinderoppasser, Cornelia Maritz, altyd by die huis was, is verwerp.
Maritz het getuig het dat sy dikwels met sy kind na ’n parkie of dorp toe gegaan het en die beskuldigde en sy vrou altyd vooraf daarvan laat weet het.

’n Nutsman, Herman Gelant, wat op ’n dag in Februarie 2015 loodgieterwerk by die Franzen se huis moes doen, het getuig dat daar niemand tuis was toe hy die betrokke dag daar aangekom het nie en dat hy Franzen moes bel.

Die hof het ook bevind dat die getuienisse van verskeie verdedigingsgetuies nie relevant was tot die klagte van verkragting nie.

“Die beskuldigde het die betrokke dag beheer oor die klaagster se liggaam gehad en word skuldig bevind soos aangekla,” het landdros Boks afge­sluit.

Die saak is vir maatskaplike, korrektiewe en slagoffer-verslae, voor vonnisoplegging, tot 27 Februarie uitgestel.

Franzen se borgtog is tot dan verleng.