Van links is Tertius Simmer (DA-kiesafdelingshoof vir Oudtshoorn, dr Nomafrench Mbombo (Wes-Kaapse Minister van Gesondheid), en dr Helise Schumann (distrikbestuurder Tuinroete Gesondheidsdienste) by die opening van die De Rust Kliniek. Foto verskaf
DIE De Rust Kliniek wat vir R4,2 miljoen deur die Wes-Kaapse regering opgegradeer is, sal nou hoëgehalte gesondheidsdienste kan lewer, sê dr Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse Minister van Gesondheid. Mbombo het Vrydag (18 Januarie) die opening van dié opgegradeerde kliniek in De Rust bygewoon.
Die kliniek spog nou met ’n verbeterde en groter ontvangskamer, wagkamer, personeelkamer en ’n onge- valle-afdeling.
Dit bedien ’n gemeenskap van net meer as 5 000 mense in De Rust, Blomnek en die Riemvasmaak- en Asla-woonbuurte, en bied ook ’n mobiele gesondheidsdiens in landelike gebiede soos by Nelsrivier, Oude Muragie, Scheeperskraal, Middelplaas, Rooirivier en Vlakteplaas.
“Ons is trots om die verbeterings aan die De Rust-gemeenskap bekend te stel. Dit is belangrik vir die Wes-Kaapse regering om seker te maak dat gesondheidsdienste in ons fasiliteite voldoen aan die behoeftes van die gemeenskap. Daarom moet ons voortdurend ons dienste uitbrei en daarna streef om die beste dienste in die beste fasiliteite aan die gemeenskap te bied,” het Mbombo gesê.