Swartbergpas – herstelwerk begin

DIE Swartbergpas se padoppervlak het nie veel skade gehad na goeie reën verlede week daar uitgesak het nie, maar talle groot klippe het wel na reën verlede week oor die pad gespoel.

So sê Christiaan Kriek van Swartberg Expe­rience wat daagliks buitelanders op toere oor die Swartberge neem.

“Die pas het Donderdagaand in ’n kort tydperk sowat 25 mm reën gekry, en groot klippe het oor die padoppervlak gespoel,” sê hy.

Jan Bester van True South Travel wat ook toere oor die Swartbergpas aanbied, het Vrydagoggend op Facebook vir Gert Verwey, adjunk-bestuurder: paaie van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, en sy span geloof wat die oggend vroeg al besig was om die pas te herstel.

“Gert was al voor 08:00 op die pas om die skade te inspekteer en teen 11:00 was die skrapers flink besig met herstelwerk. Baie dankie, Gert! Julle diens is uitstekend. Ons waardeer julle!” lui sy inskrywing. (Deur Angelique Erasmus)