Grusame botsing eis man

Die brandende vragmotor na ’n botsing Dinsdagmiddag op die Oudtshoorn-George-pad. Foto verskaf

DIE pad tussen Oudtshoorn en George was Dinsdagmiddag en -aand ure lank gesluit nadat ’n grusame botsing tussen ’n vragmotor en ’n Volks-wagen Polo sowat 14 km buite Oudtshoorn anderkant Chandelier plaasgevind het.

Die bestuurder van die Polo het in die botsing gesterf. Die man, wat in ’n gehuurde motor gery het, se identiteit was nog nie teen druktyd gister bevestig nie.

Die bestuurder van die vragmotor en een insittende kon betyds uit die voertuig kom voordat dit aan die brand geslaan het.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was die vragmotor vanaf George na Oudtshoorn op pad en het die botsing omstreeks 16:50 plaasgevind toe die motor, wat op pad was na George, in die baan van die vragmotor inbeweeg het.

Op ’n video wat van die botsing op sosiale media versprei is, wys dit hoe die vragmotor brand nadat die omgeslaan en op sy sy langs die pad beland het. Daar kan ook gesien word hoe die bestuurder vervaard uit die brandende voertuig spring. Die totaal verwoeste wrak van die motor staan aan die ander kant van die pad.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare mansslag. (Deur Liesel le Roux)