Suid-Kaap nog kalm

TERWYL Gauteng en KwaZulu-Natal tans gebuk gaan onder onrus en plundery, is daar volgens die Suid-Kaap Polisie teen gister nog geen voorvalle in die streek aangemeld nie.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woord­voerder van die Suid-Kaap Polisie, is die polisie in die Suid-Kaap wel, soos in die res van Suid-Afrika, op ’n gereedheidsgrondslag geplaas, sou daar enige “gebeurlik­heid van onrus” plaasvind.

“Op hede is daar nie ’n enkele voorval, gemeet aan wat in Gauteng en KZN plaasvind, wat in die Suid-Kaap plaasgevind het of aangemeld is nie,” sê Pojie.

Volgens Pojie gaan die polisie voort­ met die strategiese ontplooiing van operasionele lede om enige onverwagte gebeure die hoof te bied.

“Ons moniteer die situasie op die grond voortdurend en evalueer dit ge­reeld,” sê hy.

“Ons doen egter steeds ’n beroep op ons inwoners om geduld en verdraagsaamheid aan die dag te lê en steeds ’n positiewe bydrae tot orde en stabiliteit in ons streek te maak.”

Die voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, Jaco Vorster, het lede van die kamer Dinsdag in ’n e-pos-boodslap verseker dat die situasie op Oudtshoorn en in die steek gemoniteer word.

“Die Besigheidskamer het noue kontak met al die private sekuriteitsmaatskappye, asook met die burgemeester, Chris Macpherson, en die polisie. In hierdie stadium is daar geen aanduiding dat daar probleme op Oudtshoorn is nie, en die situasie word baie nou in ons dorp en in ons streek gemoniteer.

• Teen gister om was daar ook nog geen bevestigde gevalle van diefstal en plundery in die Wes-Kaap nie.

Die Wes-Kaapse Provinsiale Ramp­bestuursentrum het Dinsdag Wes-Kapenaars in ’n verklaring versoek om nie betrokke te raak by die verspreiding van fopnuus en onbevestigde inligting oor onrus en plundering op sosiale platforms nie.

Inwoners is ook versoek om die owerheid by te staan om kalmte in gemeenskappe te handhaaf.
Leiers van politieke partye in die Wes-Kaap het ook Dinsdag in ’n gesamentlike verklaring ’n beroep gedoen vir vrede en stabiliteit in alle gemeenskappe.

Dié politici van die DA, ANC, Vryheidsfront Plus, Good, ACDP en Al Jama-ah het ’n beroep op Wes-Kapenaars gedoen om nie die wet in eie hande te neem nie, en saam te staan om geweld, wetteloosheid en onrus te verwerp.

Hulle het wetstoepassers, buurt- en plaaswagte, private veiligheidsmaatskappye en gemeenskapveiligheidsbeamptes bedank vir hulle werk. (Deur Stefan Skapie Goosen)