DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van roekelose of nalatige bestuur, nadat ’n voertuig verlede Donderdagoggend ’n minuut na middernag twee keer die heining van ’n huis op die hoek van Noordstraat en Jan van Riebeeckweg op Oudtshoorn flenters gery het.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die bestuurder beheer oor die voertuig verloor toe hy vanuit Jan van Riebeeckweg wes wou draai in Noordstraat. Die bestuurder het die voorval Vrydag by die polisie aangemeld.
Die voertuig, wat vanuit die rigting van die Honde-eenheid gekom het, is met sy draaislag deur die heining op die straathoek tot in die voortuin van die huis. Dit het egter nie tot stilstand gekom nie en is langs die voorhek weer deur die heining tot in Noordstraat, waarvandaan die bestuurder van die toneel weggery het.
Die inwoners van die huis, Ansa Marais, Eugene Marais en Martha Mostert, het eers wakker geword van die lawaai toe die voertuig die tweede keer deur die heining is.
In dié proses het die posbus by die voorhekkie klaarblyklik aan die voertuig, na bewering ’n Volkswagen Amarok, vasgehaak en is ’n stuk van die heining saam met die posbus uit die grond getrek en ’n ent saamgesleep.
Vandeesweek het die vernietigde heining en posbus nog voor die huis gelê terwyl die huiseienaars wag vir onder- handelings tussen hul en die voertuigbestuurder se onderskeie versekeraars.
• Voertuie wat die spoedgrens oortree wanneer hulle vanuit ’n noordelike rigting verby Oewersig met Jan van Riebeeckweg Oudtshoorn binnery, is ’n bron van kommer vir baie inwoners van die straat, asook vir die talle stappers (met honde) en drawwers wat die pad gebruik of dit kruis. Hoewel ’n padbord duidelik aandui dat die spoedgrens 60 km per uur is, is daar op ’n daaglikse basis voertuie wat dié spoedgrens tot by die kruising met Noordstraat oortree. (Deur Liesel le Roux)
In en uit deur heining … na middernag
Die oorblyfsels van die posbus (regs) wat uit die grond geruk is en die verwronge en vernietigde heining (ver regs) wat vandeesweek nog by die huis te sien is.
Foto’s:
Liesel le Roux