Stilbaaier wen Klein Karoo-vakansie

Die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, trek die wenkaartjie onder toesig van Dave van der Walt (links) en Pienaar Muller van OSI. Foto: Corleen Barnard

Toe Rudolf Meyer van Stilbaai verlede Woensdagoggend, 30 April, ’n oproep ontvang om hom mee te deel dat hy en sy gesin ’n vakansie van R70 000 gewen het, het hy gedink dit is ’n grap.

Toe Pienaar Muller hom egter verseker dat dit geen Aprilgek-grap is nie, was hy verheug. Meyer het ’n kaartjie van R250 gekoop in die projek wat OSI (Oudtshoorn Sport Inisiatief) geloods het om fondse in te samel vir ’n dak oor die pawiljoen van die NA Smit-swembad.

Die kompetisie het op Woensdag gesluit en Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het die wenkaartjie getrek.

Nadat geverifieer is dat die gelukkige nommer 77 aan Meyer behoort, het Muller hom gekontak.

Die prys ter waarde van R70 000 behels sewe nagte se akkommodasie in die Klein Karoo, verskeie besienswaardighede en etes vir vier persone. Muller het namens OSI groot dank uitgespreek teenoor die borge wat die verskillende dele van die prys moontlik gemaak het asook elkeen wat ’n kaartjie gekoop het.

Hy het ook die munisipaliteit en Oudtshoorn De Rust Toerisme bedank vir hulle ondersteuning en bydrae tot die projek.

Alhoewel daar nog ’n groot bedrag bekom moet word om die dak moontlik te maak, sê Muller dat hierdie reeds ’n goeie eerste stap is en dat nog projekte beplan word vir verdere fondse. (HANNES VISSER)