Stil-stil maak hulle dorp mooi

Bo: MOM-vrywilligers in die tuin van Arbeidsgenot is, van links: Anette Louw, Ilse Meyer en Loraine Maritz. Foto: Hannes Visser

Die afgelope drie jaar is vrywilligers van MOM (Maak Oudtshoorn Mooi) stil-stil besig om strate deur die dorp “mooi te maak” deur takke van bome te snoei en sypaadjies netjies te hou.

Die Hoorn het drie van MOM se lede Dinsdagoggend by Arbeidsgenot aangetref terwyl hulle besig was om die tuin netjies te maak vir gister (Donderdag 8 Mei) se vieringe van Afrikaans.

Ilse Meyer vertel dat hulle gereeld langs strate soos Vredestraat, Parkweg en ʼn aantal ander werskaf. “Ons is hoofsaaklik ’n groepie vrouens, en ons gee veral aandag aan bome en struike waarvan takke laag hang en onnet lyk. Ons kry wonderlike samewerking van die munisiplaiteit wat takke en blare vir ons wegry.”

Hulle het aanvanklik besluit om tyd in die tuin van Arbeidsgenot te spandeer ter voorbereiding van Donderdag se program, maar sê Ilse, “dis so mooi hier, ons het nou besluit om meer gereeld ons dienste aan te bied.”

Sy sê hulle wil nie inmeng met die werk wat reeds deur die KKNK en Drylands in die tuin gedoen word nie, maar wil help met die klein takies, wat dikwels tydrowend is.

Ilse sê dat hulle hulle nie steur aan mense wat negatief is nie en ook nie betrokke raak by politiek of onderonsies nie. “Ons glo dat mens iets net verander deur ’n positiewe bydrae te maak en daarop te fokus.” (HANNES VISSER)