Die uitvoerende hoof van Helpende Hand, Hannes Noëth, het voorverlede week ’n groep stappers oor die roete van die Sandsteenkerke-camino begelei.
Hulle het op Saterdag 26 Mei by Baron’s Palace in Oudtshoorn weggespring en die roete met grondpaaie langs deur Dysselsdorp verby Oude Muragie, Kango Bergoord, Buffelsdrift tot weer in Oudtshoorn gevolg waar hulle op Donderdag 2 Mei geëindig het.
Die staptog is deur Klein Karoo Camino aangebied wat deur Okkie Fourie en Okkie Cloete gestig is.
Die eerste begeleide staptoer is in 2023 aangebied en tot dusver het sewe groepe dit reeds voltooi.
Volgens Fourie strek die sirkelroete oor 120 km en duur ses dae.
“Elke roete het ʼn eie identiteit, wat gebaseer is op die uitstaande kenmerk daarvan en/of ’n storie wat daarmee verband hou. Fourie sê die Klein Karoo Camino is gebaseer op storie-toerisme.
Die fokus is derhalwe daarop om die besoekpunte se unieke stories te vertel. Daar word besoek gebring aan die bakens van die streek en die stories daarvan word vertel.”
Die groep was bevoorreg dat Bun Booyens, oud-redakteur van Weg en Die Burger en samesteller van die boek, Troep, sy stories met hulle kon deel.
Hy het die aand voordat hulle weggespring het oor die verhale van dienspligtes wat in die boek vertel word gesels en hy het ook die Sondag by hulle aangesluit by Le Roux-stasie.
Hy het sy pa, Prof Bun Booyens, se graf by die stasie saam met die groep besoek, stories oor die omgewing vertel en tot by De Rust saam met hulle gestap. (HANNES VISSER)
Stappers pak 120 km sandsteenkerk-roete
Die groep stappers op hulle eerste dag op die Rooiheuwel-pad. Foto verskaf