Staatsveearts sluit nie deure

GERUGTE dat die Staatsveearts se kantoor in Van der Riet straat gaan sluit, is onwaar.
Die Hoorn het in reaksie op die gerugte ’n navraag aan dr. Cathy Fox gerig.

Sy het soos volg geantwoord. “Nee, ons sluit nie die deure van die staatsveearts nie.

Die Gemeenskapskliniek wat deur ACT SA (Animal Care Team), vanuit ons perseel bedryf word, maar nie deel uitmaak van ons instansie nie, is tans besig met die herstrukturering en verskuiwings om nader aan die gemeenskap te wees wat hul dienste benodig. Vir meer inligting hieroor, kontak asb. vir Elmarie Leach Swiegers van ACT SA,” lui die verklaring.

Die mandaat van die staatsveearts is hoofsaaklik die voorkoming, monitering, beheer en uitwis van beheerde dieresiektes in Suid-Afrika.

Hier volg nog ’n paar punte:

  • Gratis hondsdolheid-inentings word jaarliks aan honde en katte verskaf waar amptenare na minderbevoorregte of geïsoleerde landelike gemeenskappe reis om die diens te lewer.
  • Die staatsveeartsenykundige kantoor bied elke twee jaar gratis tuberkulose- en brucello-setoetse van beeste in minder bevoorregte boerderygemeenskappe.
  • Monitor ander belangrike siektes en para-siete van ekonomiese belang soos bek-en-klouseer, miltsiekte, Johnes, skaapskurfte, ens.
  • Jaarlikse registrasie- en registrasiediens vir alle volstruisplase (wetlike vereiste).
  • Verskaf ’n jaarlikse wilde volstruisvry-stellingsertifikaatdiens.
  • Toets vir voëlgriep, Newcastle-siekte en chemiese residue om die veiligheid van vol-struisvleis vir verbruikers te verseker. Die organisering van jaarlikse boeredae veral vir hulpbronarm boere in samewerking met ander relevante rolspelers.

Op ’n navraag aan Swiegers, voorsitter van ACT het sy geantwoord dat hul reeds ’n geskikte perseel gevind het en besig is om alle maatreëls in plek te kry. “Ons sal die gemeenskap laat weet sodra ons reg is om ons deure oop te maak. Ons help graag die gemeenskap en hul diere,” sluit sy af.

Vir meer inligting, skakel gerus vir Swiegers van ACT SA by 082 498 0177. (ANGELIQUE ERASMUS)