Duisende woon Pokkels se begrafnis by

Daar was Saterdag nie plek vir ’n muis in die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) vir die begrafnisdiens van die gewilde jong Peter-John Sauls (24) nie.

Sauls, ’n onderwyser aan die PJ Badenhorst Primêre Skool op Dysselsdorp, het die aand van Vrydag 8 November gesterf toe sy Volkswagen Golf op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat deur ’n Audi A3 getref is en heeltemal uitgebrand het.

Sauls is deur Evangelis Goliath (Gollie) Samson met die hulp van ’n onbekende man uit die wrak van sy motor gehaal voordat die vlamme hom bereik het. Hy is kort daarna op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Die diens wat in die Chistelike Herlewings Kerk sou plaasvind moes na die groter VGK verskuif word om die duisende begrafnisgangers te huisves. Leerders van PJ Badenhorst, van sy kollegas en ouers het ook die diens bygewoon. Damon Gysman, voorsitter van All Blacks Rugbyklub, vir wie Sauls gespeel het, het in sy huldeblyk Sauls beskryf as ’n toegewyde en getroue speler met besondere leierseienskappe.

Die bestuurder van die Audi is na die botsing op klagtes van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol in hegtenis geneem. Sy is die volgende dag op waarskuwing vrygelaat en moet op 22 Januarie 2025 haar eerste verskyning in die hof maak. (GARNETT WICOMB)