Christo van der Rheede is aangewys as die nuwe voorsitter van Kunste Onbeperk se direksie.
Dié aankondiging is Vrydag 15 November by Kunste Onbeperk se 31ste Algemene Jaarvergadering deur die uittredende voorsitter, Crispin Sonn, gemaak. Olga Wyngaard is as visevoorsitter aangekondig. Sonn en Ismail Mahomed se ter-myne het tydens die AJV verstryk.
Van der Rheede is tans uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting en was van Oktober 2020 tot September 2023 die uitvoerende hoof van Agri SA, nadat hy in 2015 as adjunkdirekteur hier aangestel is. Hy is sedert Oktober 2023 die adjunkprofessor van die Universiteit van die Vrystaat se besigheidskool, dien op die direksie van die ATKV en is ’n voormalige skoolhoof en onderwyser. Van der Rheede dien sedert November 2022 op die direksie van Kunste Onbeperk.
“Dit is ’n besondere voorreg om as voorsitter aangewys te word. Na jare se betrokkenheid, eers as komiteelid, later as lid van die direksie en nou as voorsitter, sien ek daarna uit om voort te bou op die ongelooflike nalatenskap van my voorganger, Crispin Sonn, uittredende direksielede en die personeel, onder die bekwame leiding van Hugo Theart,” sê Van der Rheede.
Sonn het tydens sy uittrede gesê hy is dankbaar vir dit wat hulle as direksie oor die afgelope sewe jaar van sy termyn vermag het, asook vir die mense wat hy oor dié tydperk ontmoet het. “Ek weet dat Christo en sy nuwe direksie die KKNK en Kunste Onbeperk se projekte na nuwe hoogtes gaan neem.
“Die afgelope sewe jaar het ek baie van Hugo en sy kollegas geleer en ons het met die direksie saamgewerk om prosesse in plek te sit wat die masjien net beter laat werk. Die direksie staan hulle rolle vol en tree in om moeilike besluite te neem soos en wanneer dit nodig is.”
Kunste Onbeperk is ’n nie-winsgewende orga-nisasie wat die KKNK en Klein Karoo Klassique aanbied, asook sedert 2021 ’n multidissiplinêre gemeenskapsprogram, Karoo Kaarte. Ander kunstegedrewe projekte soos Teksmark word ook aangebied en vele teaterproduksies word vir nasionale speelvakke vervaardig.
Die direksielede van Kunste Onberperk vir die volgende termyn is: Christo van der Rheede (voorsitter), Olga Wyngaard (visevoorsitter), Charlene Lackay, Cristal Peterson, Johan Allers (burgemeester wat ex-officio verteenwoordiger van die gemeenskap van Oudtshoorn), Denver Moses (verteenwoordiger van die Wes-Kaapse regering), Theresa Olivier (verteenwoordiger van Media24), Mariné van Brakel (onafhanklike nie-uitvoerende direkteur) en Hugo Theart (uitvoerende hoof en artistieke uitvoerende direkteur). (HANNES VISSER)
Nuwe voorsitter van Kunste Onbeperk
Christo van der Reede is verlede week as voorsitter van die Kunste Onbeperk-direksie verkies. Foto verskaf