Moontlike plan met karwagte in middedorp

Hennie Davel, derde van links, het sy planne vir ’n karwagstelsel Dinsdagmiddag met ’n groep informele karwagte gedeel. Foto: Hannes Visser

Daar is gereeld klagtes van inwoners en besoe-kers wat deur sommige informele karwagte in die middedorp gepla en selfs geteister word. Ongeveer vier jaar gelede het ’n lid van die besigheidskamer, Hennie Davel, dit op hom geneem om ’n oplossing te vind.

Vir etlike maande het hy ’n sisteem ingestel waarvolgens karwagte geregistreer en gemonitor word. Dit het egter met Covid en ’n lang gesondheidstryd waardeur Davel gegaan het, ongedaan geraak.

Hy het verlede week tydens die GPF vergadering by die Oudtshoorn polisiekantoor onderneem om weer ’n stelsel in plek te kry waarvolgens karwagte gemonitor en gemotiveer kan word. Meer as 20 informele karwagte en individue wat belangstel om karwagte te wees, het Dinsdagmiddag by die polisiestasie byeengekom waar Davel, ’n SAPD-lid en wetstoepassingsbeamptes met hulle gesels het.

Davel het verduidelik wat hy met die projek beoog en wat van die karwagte verwag sal word. Die oogmerk is om spesifieke areas aan karwagte toe te ken en dat hulle elke dag gemonitor word om te verseker dat hulle volgens voorgeskrewe riglyne optree. Dinsdag se gesprek was bloot om die belangstelling te toets. Davel het ’n opvolgvergadering vir volgende Dinsdagmiddag gereël waartydens meer besonderhede oor die projek aan die wagte gegee sal word.

“Dit is belangrik dat julle ’n inkomste verdien, maar dit is net so belangrik dat julle ’n positiewe beeld uitdra en tot voordeel van die dorp se mense optree,” het Davel aan die groep gesê. (HANNES VISSER)