Besonderse jaar vir leer en vere

Links: Cor du Toit, van Kromkoe Boer-dery het as wenner van twee kategorieë weggestap. Beste algehele realisasie ka-tegorie 1 > 500 asook die beste vere re- alisasie kategorie 1. Foto: Angelique Erasmus

Cape Karoo International (CKI) het op Donderdag, 14 November hul algemene jaarvergadering by hul perseel by die Emporium gehou.

Volgens Francois de Wet, besturende direkteur van CKI, was 2024 net so ’n besondere goeie jaar vir sy produsente soos die vorige jaar. “Die sterk vraag na volstruisleer en volstruisvere het voortgeduur, en grootliks bygedra tot besonder hoë produsente- realisasies, asook ’n goeie maatskappywins. Goeie landboutoestande het ook vir die grootste deel van die jaar voortgeduur en insetkoste van produsente verlaag,” het De Wet gesê.

Die maatskappy het weer vanjaar daarop gefokus om ’n goeie balans te handhaaf tussen maksimale produsenterealisasies, asook finansiële gesondheid van die maatskappy. Totale produsent realisasies per slagvolstruis was vanjaar hoër as die rekordjaar van 2023.

CKI se balansstaat is steeds baie gesond. Voorskotpryse vir leer en vleis is regdeur die jaar gehandhaaf, terwyl pryse vir volstruisvere vir die derde agtereenvolgende jaar gestyg het.

“CKI se omset het in 2024 effe afgeneem na R1,576 miljard, vanaf R1,668 miljard in 2023. ’n Voorbelaste wins van R108 miljoen is behaal (R97 miljoen in 2023), na uitbetaling van R22,8m se produksiebonusse,” verduidelik De Wet.

Europa en Amerika se aanvraag na volstruisleer het ’n groot bydrae gelewer tot die besondere goeie resultate wat aan die leerkant van CKI behaal is. Die maatskappy is dus goed geposisioneer om die groot modehuise in Europe te bedien met volstruis-leer wat aan kritiese vereistes van omgewingsvriendelike looiprosesse voldoen.

CKI voldoen ook aan dierewelsynsvereistes wat hul roumateriaal betref, en is dit ’n groot kompeterende voordeel in die eksotiese leer omgewing.

“Die luukse goederemark wat deur hierdie modehuise bedien word, staan meestal verhewe bo invloede soos hoë inflasie/hoë rentekoerse en ander faktore wat vraag asook pryse van normale kommoditeite negatief beïnvloed,” De Wet verduidelik verder dat die aanvraag na volstruisvere begin afplat en internasionale verekopers se aptyt vir besonderse hoë pryse begin daal het.

Die effek hiervan is veral gesien in die verlaging van vere-tenders aan die einde van CKI se finansiële jaar. Hul verwag dat hierdie toestande in 2025 steeds sal voortduur.

Navraag na volstruisvleis vir Suid-Afrika het konstant gebly. “Die binnelandse vraag na vol-struisvleis is redelik konstant, veral ten opsigte van die hoërwaarde snitte.

Produkte soos wors, maal-vleis en burgers wat uit “trimmings” gemaak word, is gewild, maar dra min by tot die relatief hoë karkaspryse wat deur produsente behaal word,” vertel De Wet.

Die aanvraag na hittebehandelde volstruisvleis het egter gedaal in lande soos Duitsland, maar die vraag daarna in ander lande was bestendig. Daar is egter potensiaal vir groei van ander produkreekse in verskeie dele van die wêreld.

“Met die 2025/26 slagtoekennings is die boodskap reeds deurgegee aan produsente dat ons nou waaksaam moet wees vir oorproduksie. Die huidige verswakking in die vraag na volstruisvere versterk hierdie sein van versigtigheid,”

“Die nuwe jaar sal vir seker sy eie uitdagings bied. Sommige is produksie-, prosessering- of markverwant.

Ons pak die jaar aan met die nodige fokus om op ’n verantwoordelike wyse, die beste moontlike pryse te betaal aan ons roumateriaal verskaffers, CKI se finansiële basis gesond te hou, asook die beste kwaliteitdiens en produkte te lewer aan ons wêreldwye kliëntebasis.” het De Wet afgesluit.

Hier volg die wenners vir CKI se volstruisle-wering vir 2024.
Beste Velle Realisasie Kategorie 1 ˃ 500 Jurie Klue – Avondrust Boerdery.
Beste Velle Realisasie Kategorie 2 ˂ 500 Wil-lie Duminy – Annemare Duminy (Edms) Bpk.
Beste Vere Realisasie Kategorie 1 ˃ 500 Cor du Toit – Kromkoe Boerdery (Edms) Bpk.
Beste Vere Realisasie Kategorie 2 ˂ 500 Jan Ga- briel Horne – Rooiklaasheuwel.
Beste Algehele Realisasie Kategorie 1 ˃ 500 Cor du Toit – Kromkoe Boerdery (Edms) Bpk.
Beste Algehele Realisasie Kategorie 2 ˂ 500 Willie Duminy – Annemare Duminy (Edms) Bpk. (ANGELIQUE ERASMUS)